Aangesien die liga slegs 28 spanne kan akkommodeer, moes 13 spanne weggewys word, maar met die troos dat hulle voorkeur sal geniet vir die Februarie 2012 toernooi.
Die veld van 28 spanne sluit ses eerste inskrywings in.
Aces High, die King George Bowlers, Global, Van Rensburg Veilings, Assupol en die Pancakes neem almal aan hul eerste Brandhouse liga deel.
Tydens die eerste twee rondes van die toernooi, wat verlede week op onderskeidelik Dinsdag en Donderdag plaasgevind het, het verskeie spanne reeds hul stempel afgedruk. Soos die geval met die Augustus toernooi is dit weer Kirsten en Tulleken Vervoer wat nouliks, met 25 wedstryd-punte, die pas aangee danksy oorwinnings oor Prostar (26-2) en Bakgat (14-8) onderskeidelik.
Die Goons het hul goeie vorm tydens die Augustus toernooi voortgesit deur eers met 12-7 teen Assupol en daarna gemaklik met 23-4 teen Van Rensburg Veilings te seëvier. Hulle is welverdiend met 24 punte in die tweede plek geplaas.
Twee spanne, Goussard Prokureurs en Aces High, bevind hulself op 23 punte, maar dit is eersgenoemde wat met ‘n beter netto punteverskil homself in die derde posisie bevind.
Aces High het as nuwe inskrywing beïndruk en volg kort op Goussards se hakke. Die Heroldsbaaiers was hul eerste slagoffer toe hulle met 9-16 uitoorlê is, gevolg deur Getting There (5-18).
MeyerOtto ingelyf, wat tydens die Augustus toernooi met die TO Honiball skets vir hul laaste plek tevrede moes wees, spog reeds met twee oorwinnings en is in ‘n stewige sewende posisie geplaas, slegs vyf punte agter die voorloper.
In twee spannende wedstryde het hulle eers met Laerskool George-Suid (12-7) en Global (13-12) afgereken.
Die borgspanne van MSec Security en Brandhouse bevind hulself in die vyfde en twaalfde posisies onderskeidelik met Secunda Sales wat in die 27ste posisie nog geen wedstryd kon wen nie.
Afwagting vir vanaand (Donderdag) se wedstryde is ongekend en veral twee wedstryde sal aandag trek. Kirsten en Tulleken Vervoer kom voor sy grootste toets tot nog toe te staan wanneer hy Die Goons die stryd aansê, terwyl Aces High teen Goussards te staan kom.
MeyerOtto Ingelyf sal graag sy segetog teen Bakgat wil voortsit.
Spel begin om 18:00 by die Outeniqua Rolbalklub.
(1).jpg)
Alhan van der Merwe (2de van links) se Aces High beïndruk as eerste inskrywing.
(1).jpg)
Assupol, 'n nuwe inskrywing onder leiding van Willie Cilliers (2de van links), voor die aanvang van hul wedstryd teen The Rolling Stones.