Slegs vier spanne kan met onoorwonne rekords spog in dié gewilde liga wat by halfpadmerk bereik het.
Kirsten en Tulleken Vervoer het hul segetog voortgesit deur taamlik gemaklik met 11-4 teen ‘n verswakte span van die Vintage Rollers te sëevier. In die proses het hulle nie net hul onoorwonne status behou nie, maar ook verseker dat hulle steeds die eerste plek beklee met 39 wedstrydpunte.
Vir die Vintage Rollers is hierdie neder-laag ‘n gevoelige slag deurdat hulle vanaf die tweede na die sewende algehele plek teruggesak het.
Apollo het met ‘n oorwinning van 19-7 teen Eden Wealth hul aanslag op ‘n eerste Brandhouse-kroon verstewig en blaas met 36 wedstrydpunte in die nek van Kirsten en Tulleken.
Benewens die twee topspanne is dit slegs Die Goons (33 punte) en Fiat Alfa (31) wat nog onoorwonne is. Eersgenoemde is tans derde geplaas danksy ‘n pragoorwinning van 14-7 teen Goussard Prokureurs.
Fiat Alfa was in ‘n feitelik foutlose vertoning met 13-4 te sterk vir die borgspan van Brandhouse. Fiat Alfa beklee die vyfde algehele plek.
Terwyl topspanne dit op die boonste helfte van die punteleer uitspook, het nie minder nie as drie spanne hul eerste Brandhouse-oorwinnings behaal. Finovo Accounting het met 15-7 met die Conti Rof Rollers afgereken, Buitendag Rahl was met 12-8 te sterk vir die Bellas en The Rolling Stones het gemaklik met 19-3 teen Meyer Otto Agri gesëevier. Laasgenoemde bevind hulself in ‘n ongemaklike laaste plek.
Die vierde ronde is vanaand om 18:00 by die Outeniqua Rolbalklub plaas en beloof om die spreekwoordelike koring van die kaf te skei.
Kirsten en Tulleken kom in hul grootste toets tot nog toe te staan teen ‘n begeesterde Apollo, terwyl Die Goons en Die Greenies mekaar in ‘n deurslaggewende wedstryd die stryd aansê.
Fiat Alfa sal tot die uiterste beproef word deur Digifusion terwyl die Vintage Rollers sal wil vergoed vir hul nederlaag teen Kirsten en Tulleken. Hulle kom teen die Houtkewers te staan.
Vital Force, die Bellas, die Conti Rof Rollers en Meyer Otto Agri sal almal graag hul eerste oorwinnings in die reeks wil aanteken.

Die onoorwonne span van Apollo is tans tweede geplaas.

Getting There het in hul jongste wedstryd met 14-13 teen Die Barnards geseëvier.