Met ‘n skittersege van 16-4 oor Secunda Sales en De Ja Vu se verrassende oorwinning van 16-6 oor die Vintage Rollers, is hulle verseker van ‘n eerste plek met 38 wedstrydpunte ná die derde ronde.
In die tweede plek is dit juis De Ja Vu wat met 36 wedstryd-punte in hul nek blaas.
Met die Vintage Rollers se onverwagse nederlaag, is daar nou slegs vier onoorwonne spanne.
Buiten Brandhouse 2 en De Ja Vu, spog slegs Nels Meubels 2 en The Greenies met hierdie prestasie.
Dit is veral The Greenies, ‘n nuwe inskrywing tot die aandreeks, wat beïndruk. Hierdie keer was dit Waltons wat met 12-17 teen hulle die knie moes buig.
Twee ander nuwe inskrywings tot die reeks, die Liberty Giants en Hino’s 1, het hul eerste oorwinnings in ‘n rolbaltoernooi gesmaak. Eersgenoemde het met 15-10 teen CMB gesëevier terwyl Hino’s 1 verspot-maklik met hul tweede span, Hino’s 2, klaargespeel het. Die telling was 20-8.
Met die reeks wat nou die halfpadmerk bereik het, skei slegs 8 wedstrydpunte die eerste 5 spanne op die algehele telbord. Hierdie week word daar vuurwerke verwag wanneer die voorloper, Brandhouse 2, teen ‘n baie gemotiveerde De Ja Vu te staan kom.
Die Vintage Rollers sal ook hul blaps in die derde ronde wil regstel wanneer hulle met Nels Meubels 2, tans vierde, kragte sal meet.
Vier spanne, die E-lemon-ators, Just Letting, CMB en Hino’s 2, sal ook alles in die stryd werp om hul eerste oorwinning te behaal.
Spel begin môre om 18:00 by die Outeniqua Rolbalklub in Airwayweg, Heatherpark.
Nels Meubels se spanlede voor die aanvang van spel in die vorige reeks wedstryde.