GEORGE SOKKERNUUS - Die afskopprojek van die 6Aside Footy Challenge, wat Saterdag 2 Julie op die veld van Conville Primêr begin het, het die verwagtinge van die organiseerders oortref.
Aanvanklik het sowat 100 jong sokkerspelers die oggend opgedaag, maar dit het later tot 200 gegroei.
Saterdag is die eerste ronde gespeel. Die tweede ronde vind die komende naweek plaas en die halfeindstryd en eindstryd vind die naweek van 30 Julie plaas.
Altesame 10 spanne wat bestaan uit seuns in die ouderdomsgroepe o.10, o.13 en o.15 het aan die sokkertoernooi deelgeneem. Dis byna soos gewone sokker, maar spanne bestaan net uit ses lede elk.
Spanne in die o.10-afdeling het 20 minute gespeel en die o.13- en o.15-afdeling 30 minute. Sowat 15 wedstryde is gespeel. Dit word gesien as deel van jeugontwikkeling.
Brandon Adams, burgemeesterskomiteelid en Benmèr Madumane, 'n gemeenskapsleier, is daarby betrokke. Adams, in sy persoonlike hoedanigheid, is die hoofborg.
Madumane het Maandag gesê die eerste ronde was 'n baie groot sukses. "Ons het nooit verwag dat dit so vinnig sal vlamvat nie. Die kwaliteit spel was vermaaklik en van hoë gehalte. Dit lyk of die kinders al vir jare sokker speel."
Volgens hom is die plan om later ook spanne van Wildernesshoogte en Hoekwil te betrek. Die is net die afskopprojek vir die amptelike projek wat later vanjaar plaasvind. Die plan is om dit met Erfenismaand in September te laat saamval.
Hy het gesê vir van die kinders is die sport alles in hul lewe. Dit gee struktuur en leer hulle dissipline op en af van die veld. Dit leer hulle ook samewerking. Elke individu maak 'n bydrae tot 'n span.
'n Kind leer hy of sy kan met hul talente baie in die lewe bereik. Deur 'n sportgeleentheid kan 'n seun of dogter 'n professionele loopbaan, hul eie lewe en hul familie se lewens verander.
Madumane het die borge bedank wat Saterdag betrokke was en gehelp het om dit 'n sukses te maak. Onder hulle is Lauren Cupido van Red Lion Lounge. Sy het drinkgoed en eetgoed vir die deelnemers voorsien.
Voorts 'n sertifikaat en R50 vir elke man van die wedstryd. Sy het ook R50 vir elkeen van die vier skeidsregters beskikbaar gestel.
'n Deel van die groep seuns, beamptes en borge wat Saterdag bymekaargekom het vir die eerste ronde van die toernooi. Foto's: Eugene Gunning
'n Deel van die groep seuns, beamptes en borge wat Saterdag bymekaargekom het vir die eerste ronde van die toernooi. Foto: Eugene Gunning
Van die seuns Saterdag in aksie.
Vorige artikel: Dis tyd vir sokker
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'