Gallery
GEORGE NUUS - Moeilik op plekke, maar asemrowend mooi. Dit was die boodskap van verskeie deelnemers aan Saterdag 23 Oktober se Cairo to Cape and back-geleentheid. Dit het op die plaas waar die bekende Kaart van Afrika geleë is, plaasgevind.
Deelnemers het in twee wedlope, 21 km of 8 km gehardloop. Altesaam 375 atlete het deelgeneem - 180 atlete aan die 21 km en 195 aan die 8 km.
Kort voor die wedlope het dit begin reën en die organiseerders het reënponchos aan die atlete uitgedeel.
Reynard van Straaten (37) was eerste terug by die wenpaal in die 8 km en Tonya Schoeman (13) was kort na hom tweede. Sy was die eerste vrou in dié afdeling. Van Straaten se tyd was 41 minute en 13 sekondes.
Julius de Clercq (27) was eerste in die 21 km en Rebecca Kohne (18) was die eerste vrou oor die wenstreep in die afdeling.
De Clercq se tyd was 1 uur, 26 minute en 31 sekondes.
Van Straaten het gesê hy het die wedloop baie geniet. "Dit was tussen maklik en moeilik. "Hy sal weer aanstaande jaar hardloop en dan poog om sy tyd te verbeter.
Schoeman het gesê dit was "moord". "Ek het gegly op die bulte, maar sal dit beslis weer doen. Ek is altyd reg vir 'n challenge." Sy is by die wenpaal deur haar pa, Lodewyk Schoeman, ingewag.
De Clercq het gesê dit was 'n baie mooi roete deur die woud. "Daar was op en af klimme. Ek het dit baie geniet en sal dit weer doen want die geleentheid sal groei. Mense is uitgehonger om aan wedlope deel te neem."
Kohne, 'n gr. 12-leerling aan York High, het gesê die roete was baie mooi. Dit was nie 'n moeilike wedloop nie, maar dit was ook nie maklik gewees nie. Daar was klimme wat nie maklik was nie. Sy het dit baie geniet en sal dit beslis weer aanstaande jaar aanpak.
Jan Botha, wat saam met 'n groep vriende die 8 km aangedurf het, het gesê dit was baie aangenaam. Veral om in die natuur te kon hardloop. "Dit was interessant om op die Kaart van Afrika te hardloop."
Die jongste deelnemer was 10 jaar oud en die oudste 73 jaar. Benewens atlete van die streek, was daar ook deelnemers van Pretoria, Kaapstad en Port Elizabeth.
Weer in 2022
Alewijn Dippenaar, organiseerder, het Maandag gesê die geleentheid het by verre die verwagtinge oortref. Gegewe die belangstelling het hy 'n baie sterk gevoel dat die geleentheid maklik kan groei tot 'n 1 000 deelnemers. Dit sal verseker aanstaande jaar weer gehou word en die beplanning is vir 22 Oktober 2022.
Reynard van Straaten (37) was eerste terug by die wenpaal in die 8 km. Sy vrou, Lindie was daar om hom geluk te wens. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'