Gallery
GEORGE NUUS - Meike Strydom, een van die blinkste diamante aan die atletiekhorison, het die afgelope naweek goud gewen vir Suid-Afrika by die Sentraal-Afrika (CAA) se junior en jeugkampioenskappe in Boksburg.
Sy het die gewigstoot vir junior vroue met 'n afstand van 15,19 m ingepalm.
Dit is 'n uitsonderlike eer vir haar land, ASWD, George en Hoërskool Outeniqua, waar sy 'n gr. 12-leerder is.
Strydom het na die byeenkoms aan die George Herald gesê: "Ek is baie bly om vir my land 'n goue medalje te wen. Ek sou dit nie kon doen sonder die Here aan my kant nie."
Antonio Farmer van York High en Simonn Swanevelder, ook van Hoërskool Outeniqua, wat albei vir Suid-Afrika verteenwoordig het, het ook medaljes gewen. Farmer het silwer gewen in die 10 km-stap (49:52) en Simonn brons in paalspring (3,30 m).
Die Kwaggas Carmen Olivier en Hanno du Plessis, wat in die kleure van Atletiek SWD deelgeneem het, het ook puik presteer.
Bronsmedaljes is ingeoes deur Olivier in hoogspring (1,60 m) en Hanno in hamergooi (57 m).
Vriende en familie het Sondagmiddag op die George-lughawe vir Meike Strydom (regs) en Antonio Farmer (derde van regs) met Suid-Afrikaanse vlaggies ingewag net nadat hulle uit Johannesburg geland het. Tussen hulle staan nog 'n belowende atleet, Nolene van Rensburg. Hulle het in Boksburg aan Sentraal-Afrika se junior en jeugkampioenskappe deelgeneem waar Meike goud in die gewigstoor gebuit het en Antonio silwer in die stap. Foto: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'