SKOOLNUUS - Geloofstroom, 'n interkerklike niewinsgewende bediening, bied vanjaar weer 'n vakansieprogram in George aan om jong maats besig te hou met Bybelonderrig deur middel van speel en pret.
Die program is spesifiek gerig op kinders tussen 8 en 12 jaar oud en vind plaas vanaf Maandag 29 Junie tot Vrydag 3 Julie.
Aktiwiteite word daagliks van 08:00 tot 13:00 (met die formele program wat om 09:00 begin) by die George Vryburgers Omgeemense-gebou in Yorkstraat aangebied.
Tydens hierdie week gaan die kinders lekker saam sing, speel, kuier en op 'n lewendige manier waardevolle lesse uit die Bybel leer.
Geloofstroom se opgeleide en ervare jeugwerkers staan reeds sedert 2017 ouers en gemeentes by om hierdie dinamiese programme aan te bied onder leiding van Herman de Kock, met ondersteuning van sy vrou Emmie, hul dogters en ander vrywillige studente en jeugwerkers van verskeie gemeentes.
De Kock is ‘n gekwalifiseerde leraar en skryf maandeliks vir die tydskrif, Juig!.
Elke kind wat deelneem aan die program, moet hul eie papierbybel, penne en koukies of potlode saambring. Ander hulpmiddels en iets ligs om te eet sal voorsien word.
Kinders moet al selfstandig genoeg wees om net afgelaai te word. Tieners/studente gaan help as groepleiers.
Ouers kry toegang tot alle Bybelonderrigmateriaal wat gedeel word. Kinders wat ál 5 dae bywoon, ontvang ‘n sertifikaat.
Die program en aktiwiteite word in Afrikaans aangebied, maar Engelse liedjies sal ook gesing word en video’s gekyk word.
Die koste beloop R250 per kind vir die hele week, wat verversings en hulpmiddels insluit. Omdat plek tot 'n maksimum van 50 maats beperk is, is vooraf bespreking noodsaaklik.
Vir meer inligting, skakel Herman de Kock by 083 326 5715 of besoek hul webwerf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’