GEORGE NUUS - ANC-wyksraadslid vir Haarlem, Michael Daniels, het 'n mosie ter tafel gelê rondom die aanstelling van 'n persoon sonder dat die individu vir die pos aansoek gedoen het.
Hy het die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, gevra om te verduidelik hoe dit gebeur het dat Duppie du Preez Haarlem en Uniondale bestuur, sonder dat hy vir die pos aansoek gedoen het.
Volgens Daniels het vyf kandidate aansoek gedoen. "Hy (Duppie du Preez) was nie op die kortlys nie en hy is nie gekeur nie," het Daniels gesê.
Hy voer aan Du Preez het op 13 September voor ander amptenare erken hy het nie vir die pos aansoek gedoen nie.
"Die equity target is heeltemal oorsien. Die persoon wat die pos gekry het... tydens die interview het dit uitgekom dit is 'n kontrakpos... hy het decline. Hoekom is die pos dan nie aan die ander kandidate gegee nie?" wou Daniels weet.
Hendricks het verduidelik dat nadat die pos deur die eerste kandidaat geweier is, niemand in die posisie aangestel is nie.
"Dit was die mandaat van die MM (Trevor Botha) om hierdie funksies vir Duppie du Preez te gee. Die posisie is nie gevul nie," het hy gesê.
Volgens Hendricks is die mosie foutief, omdat niemand aangestel is nie.
Daniels hou voet by stuk dat Hendricks se feite nie klop nie. Hy sê Du Preez het self gesê hy is aangestel as die nuwe dorpsbestuurder van Wyk 24 en 25.
"Hoe kan 'n persoon vir agt dae (twee dae 'n week) so 'n helse salaris ontvang, en dan kom hy eers tienuur in Uniondale aan, en dan vertrek hy weer tweeuur?"
Volgens SAC-raadslid Bazil Petrus is 'n dispuut verklaar rakende die aanstelling.
ACDP-raadslid Johan du Toit, het gesê indien die aantygings waar is, die nodige prosesse nie gevolg is nie en dat die aanstelling onwettig is.
"Ons vra dat daar 'n indiepte-ondersoek gedoen word en dat daar opgetree word teen die skuldige partye.
"Ons vra onsself: is dit 'n uitsonderlike geval, of is daar ander gevalle waarvan ons nie weet nie?"
Du Preez is vir kommentaar genader, maar dit is nie teen druktyd ontvang nie.
ANC-wyksraadslid vir Haarlem, Michael Daniels, het 'n mosie ter tafel gelê wat verband hou met die aanstelling van 'n senior bestuurder van Uniondale en Haarlem.
Die George-munisipaliteit het soos volg kommentaar gelewer:
"Met die oordrag van die distriksbestuursgebied Uniondale/Haarlem van Eden-distriksmunisipaliteit na George-munisipaliteit in 2011, is mnr. Du Preez saam met ander werknemers wat hierdeur geraak is, oorgeplaas in lyn met Provinsiale Kennisgewing 6854, gedateer 28 Mei 2011, met volle behoud van hul poste en diensvoorwaardes.
"In Augustus 2014 is mnr. Walter Hendricks gesekondeer vir die posisie van bestuurder van die distriksbestuursarea (DBA) en mnr. Du Preez is herontplooi as projekbestuurder van ondersteuningsdienste/klagtes in die kantoor van die munisipale bestuurder.
"Dit is korrek dat die pos vir die DBA geadverteer is, hoewel mnr. Du Preez, volgens sy herontplooiingsooreenkoms, sou terugkeer na die pos van bestuurder van die DBA.
"Hierdie besluit was in lyn met raadsbeleid en die advertensie vir die tydelike pos (bestuurder van die DBA) was foutief aangesien die pos nog nie op daardie stadium vakant was nie met mnr. Du Preez wat steeds geregtig was op die pos.
Ná mnr. Hendricks se aanstelling as direkteur van gemeenskapsdienste, het mnr. Du Preez weer sy pligte as bestuurder van die distriksarea opgeneem en gaan hy voort om die funksie te vervul van projekbestuurder: ondersteuningsdienste/klagtes in die kantoor van die munisipale bestuurder."
ARTIKEL & FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'