Gallery Update
GEORGE NUUS - 'n Spesiale raadsvergadering wat Maandag op kort kennisgewing sou plaasvind is uitgestel na gistermiddag (15 November) nadat die opposisie hewig kapsie gemaak het.
Raadslede het hul agendas Maandagoggend ontvang en die vergadering het sowat vier ure later begin.
Die algemene gevoel was dat raadslede bitter min tyd gehad het vir voorbereiding.
Na 'n halfuur koukus deur beide die DA en die ANC is die vergadering na Woensdagmiddag (15 November) verskuif, en sou dus na druktyd plaasvind.
Die aanstelling van direkteure vir drie departemente, naamlik beskermingsdienste, menslike nedersettings en beplanning en ontwikkeling, was op die agenda.
Hierdie items, sowel as 'n bespreking oor die uitrol van die vierde fase van die GO GEORGE-busdiens na Thembalethu, sou in die konfidensiële deel van die vergadering plaasvind.
In die ope deel van die vergadering sou raadslede 'n keuringspaneel kies vir die direkteure van korporatiewe en elektrotegniese dienste.
Die aangepaste begroting vir die 2017/2018 finansiële jaar was ook 'n agendapunt.
PBI-raadslid Virgill Gericke, het gesê dit is onaanvaarbaar dat raadslede so min tyd gegun word om voor te berei op items.
Hy het die speaker, Iona Kritzinger, gevra of die vergadering wettig is, in terme van die ordereëls.
PBI-raadslid Virgill Gericke het gesê dit is onaanvaarbaar dat raadslede so min tyd gegun word om voor te berei op items.
"Julle speel met mense se loopbane. Julle ondermyn die opposisie in die raad," het hy gesê.
Gericke het die speaker daarop gewys dat sy seggenskap oor raadsake het en verantwoordelikheid moet neem oor wanneer agenda's aan raadslede besorg word.
Gert van Niekerk van die VF Plus het gesê dis onmoontlik om deur die dokumente binne vier ure te werk en 'n ingeligte besluit te neem.
DA-hoofsweep, Michael Nyakati, het gesê die DA het nes die ander partye ook eers die agenda's die oggend voor die vergadering ontvang.
Johan van Schalkwyk, die raad se regsadviseur, het bevestig dat 'n spesiale vergadering met 'n drie tot vier ure kennisgewing geroep kan word.
Munisipale bestuurder Trevor Botha, het sy kommer uitgespreek dat inligting deur raadslede aan die media en die publiek gelek sou word, indien hulle dokumente lank voor die tyd sou ontvang.
MM is bang inligting lek
Munisipale bestuurder, Trevor Botha, het gesê die gebruik was vroeër om konfidensiële items, veral met betrekking tot personeelsake, op die dag van die vergadering uit te reik.
"Inteendeel, dit is vroeër in die raadsaal uitgedeel," het hy gesê.
Botha het sy kommer uitgespreek dat inligting deur raadslede aan die media en die publiek gelek sou word, indien hulle dokumente lank voor die tyd sou ontvang.
Hy het die raadslede daarop gewys dat die inligting hoogs vertroulik is en dat die munisipaliteit regsaksie in die gesig kan staar indien die inligting aan die publiek bekend gemaak word.
Hy het gesê die item wat handel oor die uitrol van die busdiens kan mense se veiligheid beïnvloed.
"Daarom het ons besluit om die items die oggend voor die vergadering uit te deel," het hy gesê.
Munisipale bestuurder Trevor Botha (links), speaker Iona Kritzinger (middel) en die raad se regsverteenwoordiger, Johan van Schalkwyk.
Raadslid Bazil Petrus van die South Africa Civics het gesê die suggestie dat vertroulike inligting deur die politieke komponent van George-munisipaliteit uitgelek word, is totaal onaanvaarbaar.
"U hulle sal verbaas wees wie loop in die munisipaliteit met inligting rond wat nie op straat hoort nie.
"Het u al gewonder hoekom weet ons so alles? Ons snuffel nie hier vir inligting nie, inligting word vrywilliglik aangebied in baiegevalle," het Petrus gesê.
Wilbur Harris van Icosa het gesê Botha se kommer dui op totale wantroue tussen die administrasie en die politici.
* A Special Council Meeting that would have taken place on Monday was postponed to Wednesday afternoon (15 November), following complaints from the opposition about having only a few hours to prepare for the meeting. The appointment of directors for three departments, namely Protection Services, Human Settlements and Planning and Development, was on the agenda. These items, as well as a discussion about the rolling out of the fourth phase of the GO GEORGE bus service to Thembalethu, was scheduled for discussion in the confidential part of the meeting.
NUUTSTE:
Trevor Botha het raaddslede gister (Woensdag 15 November) tydens ‘n spesiale raadsvergadering om verskoning gevra, sou hy die indruk geskep het dat hy raadslede nie vertrou nie. “Ek het nooit gesê dat ek raadslede nie vertrou nie,” het hy gesê. Hy het verduidelik dat hy slegs die boodskap wou oordra dat konfidensiële items werklik sodanig hanteer moet word en dat die geleentheid geminimaliseer moet word vir mense om sensitiewe inligting aspris of per abuis te versprei.
ARTIKEL & FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'