GEORGE NUUS - Die Patriotic Alliance (PA) het gister, Woensdag 11 Februarie, die tussenverkiesing in wyk 16, New Dawn Park, oortuigend gewen.
Vir die DA is hierdie uitkoms ’n gevoelige terugslag aangesien hulle die einste wyk tydens die vorige tussenverkiesing gemaklik ingepalm het.
Volgens die amptelike uitslag van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het PA-kandidaat Naellowine Charmonay Elsebé Esau ’n sterk 65,26% van die stemme verower.
Altesaam 2 882 stemme is uitgebring uit ’n geregistreerde kiesertal van 5 458, wat ’n stempersentasie van 52,80% verteenwoordig. Slegs 0,42% van die stemme was bedorwe.
Hierdie uitslag dui op ’n merkbare verskuiwing in kiesersteun. Dit is inderdaad ook die derde tussenverkiesing wat die DA vanjaar aan die PA afstaan. Met die vorige tussenverkiesings in wyke 17 en 27 op 22 Januarie het die PA beide gewen.
Theresa Fortuin, voormalige DA-wyksraadslid van New Dawn Park, lyk baie positief in haar groen PA-klere. Saam met haar is Jeretta Magu (links). Foto’s: Michelle Pienaar
Stemdag
Tydens die tussenverkiesing was ondersteuners reeds vroegdag by die stemlokaal in Toemalynstraat. Die atmosfeer was jolig en energiek, met baie opwinding van die PA se kant af.
Kiesers is met ‘n groot gejuig by die ingang na die stemlokaal by die munisipale kantoor in New Dawn Park ontvang en dikwels aangery.
Hoewel vier partye vir die tussenverkiesing geregistreer het, was dit hoofsaaklik die DA en die PA wat sigbaar veldtog gevoer het. Die ANC en die Truth & Solidarity Movement was nie by die stemlokaal teenwoordig nie.
Die DA se kandidaat was Eveline Scheepers. Beide partye het ondersteuning van buitedorpe ontvang. Minister Ricardo Mackenzie het sy gewig agter die DA ingegooi, terwyl die PA hul ondersteuners per voertuig na die stemlokaal vervoer het om opkoms te bevorder.
Jolene Damons (19, tweede van links) kom trek haar kruisie vir die eerste keer. Saam met haar is Nickey le Roux (links), Markyka Jacobs en Braam America. Foto: Michelle Pienaar
Die DA-span by die tussenverkiesing in New Dawn Park.
Die PA in volkleur!
Lees vorige artikels hier:
- George by-elections: Clear PA win, but let's look at the breakdown
- PA wins Wards 17 and 27 by-elections, DA coalition retains control of George Council
- By-elections proceed calmly amid high political stakes
- 4 parties vie for 3 council seats in George
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’