NASIONALE NUUS - Die nuwe konsepregulasies oor die gebruik van vuurwapens in die private sekuriteitsbedryf word uit verskeie oorde ten sterkste veroordeel met talle politieke partye, die vuurwapeneienaars-vereniging sowel as die sekuriteitsbedryf wat sê dit sal misdaadvoos Suid-Afrikaners nog meer weerloos laat.
PSIRA, die regulerende liggaam van die private sekuriteitsbedryf, se konsepregulasies is Vrydag 28 Maart in die Staatskoerant gepubliseer en Suid-Afrikaners het tot 25 April om kommentaar te lewer.
Die regulasies sluit onder meer in dat privaat sekuriteitsfirmas wat vir enige iets ondersoek word, nie wapens aan hulle beamptes mag uitreik nie.
Dit beperk ook beamptes se werksaamhede in talle openbare plekke, is vaag oor die hoeveelheid ammunisie wat 'n beampte mag dra, en verbied ook die gebruik van nie-dodelike hulpmiddels soos waterkanonne, rubberkoeëls en skokwapens, behalwe as PSIRA dit spesifiek goedgekeur het.
As gevolg van Suid-Afrika se hemelhoë misdaadsyfer, swak polisiëring en lae vervolgingskoers, het Suid-Afrika een van die grootste private sekuriteitsbedrywe in die wêreld.
Gewone burgers sal daaronder ly
Die Vryheidsfront Plus sê indien die regulasies wet word, sal dit gewone Suid-Afrikaanse burgers die meeste raak en misdaadbestryding verder afwater.
Die VF Plus doen ‘n beroep op alle rolspelers om gebruik te maak van die openbare deelnameproses om hul insette te lewer.
Die VF Plus berig op hul webblad, www.vfplus.org.za, dat ‘n 2023 verslag van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie sê die bedryf het toe 2,56 miljoen geregistreerde sekuriteitsbeamptes gehad waarvan 586 000 aktief aan diens was by meer as 12 000 maatskappye.
"Daarteenoor het die polisie in 2023 slegs 180 000 lede in diens gehad waarvan ‘n groot aantal nie-aktiewe polisiewerk doen, soos administratiewe personeel," skryf Heloïse Denner vir die VF Plus.
Kom na tafel met opregte bedoelings
Ook die SA Vuurwapeneienaars-vereniging en die Demokratiese Alliansie veroordeel die konsepregulasies.
Ian Cameron, die DA se woordvoerder oor polisie, sê die konsepregulasies moet ontrek word en PSIRA en die departement van polisie moet tafel toe kom met 'n opregte verbintenis tot kunsultasie met rolspelers, geanker in operasionele werklikhede met die fokus op die toepassing van bestaande wette.
Hy sê die konsepregulasies is vreeslik wyd en vaag en sal veroorsaak dat sekuriteitsfirmas hul bedrywighede moet staak. Enige aantyging sal daartoe lei dat 'n firma sal moet toemaak tot die ondersoek voltooi is.
Cameron sê die regulasies sal dit haas onmoontlik maak vir gewapende private sekuriteitsbeamptes om by winkelsentrums, skole, kerke en hospitale hul werk te verrig.
Die DA glo PSIRA moet liewers fokus op die enkele weerbarstige elemente in die sekuriteitsbedryf wat nie hou by die reëls nie, en nie die ganse bedryf wil straf nie.
Mense wat wil kapsie maak teen die regulasies moet dit voor 25 April 2025 doen deur te skryf aan Regulations@psira.co.za
100de vuurwapens gesteel
Intussen het die DA se skaduminister van gemeenskapsveiligheid in die Oos-Kaap, Yusuf Cassim, gesê die party is diep bekommerd oor die aantal vuurwapens wat deur polisiebeamptes in die provinsie verloor word of by hulle gesteel word.
Van die 410 vuurwapens ter sparke, is 362 gesteel en 48 het weggeraak sonder enige verduideliking. Terwyl 232 teruggevind is, is daar steeds 178 weg - heel moontlik in die hande van misdadigers.
Cassim sê die tipe wapens wat vermis word sluit in 164 Beretta pistole, 131 Vektor Z88 pistole, 26 Vektor R5 aanvalsgewere, Musler haelgewere, Walther pistole, FN gewere en Glock pistole.
"Hierdie is nie ligte kaliber wapens nie. Dit is wapens wat ontwerp is vir gevegsituasies en wetstoepassing. Nou is dit in misdadigers se hande deur agterlosigheid en swak beheer," sê Cassim.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’