TUINROETE | KAROO NUUS - Matriek is een van die belangrikste mylpale in 'n jongmens se lewe. Dit maak deure na toekomstige geleenthede oopmaak. Ouerbetrokkenheid speel 'n sleutelrol in akademiese sukses, en dit is noodsaaklik om jou kind gedurende hierdie jaar te ondersteun.
Natasha Uys, voorligtingsielkundige by die Wes-Kaapse departement van onderwys, en Jacomien Rocchi, opvoedkundige sielkundige by die WKOD, deel praktiese wenke om ouers te help om hul matrikulante optimaal te ondersteun.
Beklemtoon die belangrikheid van onderrig
Ouers of voogde kan die langtermyn voordele van akademiese vordering en prestasie aan kinders kommunikeer. Beklemtoon die waarde daarvan en hoe dit deure vir hulle in die toekoms kan oopmaak.
Hierdeur word 'n positiewe ingesteldheid teenoor skool gekweek en die waarde wat onderrig vir hulle kan bied.
Hierdie boodskap behoort van jongs af gekommunikeer te word.
Begrip vir jou kind
Matriek kan ‘n stresvolle tyd wees vir beide die ouer of voog en die kind. Beide kan angstig voel oor die druk en verwagtinge wat geskep word.
Wanneer kinders onder druk verkeer en dit met jou bespreek moet gerusstellende woorde gebruik word.
In plaas daarvan om te sê: "Ek kon dit doen, of jou broer/suster het dit reggekry, so jy kan ook”, sê eerder: "Ek verstaan dit is moeilik" en probeer saam aan 'n oplossing werk.
Bespreek en stel realistiese doelwitte. Dit kan kinders motiveer en help om gefokus te bly. Dit bevorder ook beplanningsvaardighede en uithouvermoë.
Skep ‘n gunstige leeromgewing
Help om ‘n rustige, georganiseerde studieruimte sonder onderbrekings te skep. Sien toe dat jou kind toegang het tot die nodige bronne om bv. take te doen: sluit aan by die biblioteek en sorg dat die nodige skryfbehoeftes beskikbaar is.
Maak seker dat hulle genoeg slaap en gesonde kos eet. Ouers of voogde kan fisieke aktiwiteite aanmoedig en help om ‘n gebalanseerde roetine te handhaaf.
Wees betrokke by jou kind se vakke en bespreek enige uitdagings wat hulle mag hê. Die skool en opvoeders is altyd beskikbaar om met akademiese uitdagings te ondersteun.
Erken hul pogings en vier prestasies
Moedig jou kind aan deur hul harde werk raak te sien en dit te waardeer. Wanneer hulle gesonde besluite neem, soos om ‘n partytjie oor te slaan om te studeer of ‘n breek te neem vir oefening, gee erkenning aan hierdie keuses. Vier prestasies en doelwitte wat bereik is.
Die erkenning en viering van jou kind se akademiese prestasies, hetsy groot of klein, versterk verder ‘n positiewe houding teenoor leer en dien as motivering om voort te gaan met hul strewe na uitnemendheid.
Moenie vergelyk nie en monitor hul vordering
Elke kind is uniek. Moenie jou kind vergelyk met ‘n ouer broer of suster, ander familielede of maatjie nie.
Stel realistiese verwagtinge en moedig hulle aan om hul eie pad te stap sonder onnodige druk.
Hou ‘n oog oor jou kind se vordering, kommunikeer met opvoeders en woon vergaderings by. Uitdagings kan sodoende vroeg geïdentifiseer en uitgesorteer word.
Hersien gesinsverantwoordelikhede
Hoewel gesinshulp belangrik is, moet ouers of voogde in ag neem dat matrikulante beperkte tyd het.
Verlig huishoudelike verantwoordelikhede waar moontlik en bied ondersteuning indien hulle dalk self ‘n ouer is.
Bou vertroue en selfvertroue
Bied bemoedigende, positiewe boodskappe en herinner jou kind daaraan dat jy in hulle glo. Hulle moet weet dat jy hul potensiaal raaksien en hul drome ondersteun.
Spanning kan maklik tot konflik lei. Hanteer konflik op 'n positiewe manier. Probeer om kalm en geduldig te bly, eerder as om in ‘n woede-uitbarsting te reageer. Oop kommunikasie en begrip sal help om ‘n positiewe verhouding te handhaaf.
Wees ‘n ondersteuner
Namate jou kind na die volwasse wêreld beweeg, moet ouers ‘n meer ondersteunende rol inneem. Besoek saam met hulle opedae by universiteite en kolleges, help met beroepsnavorsing en ondersoek beursgeleenthede.
Gebruik jou netwerk om werkskadu-geleenthede te vind wat hulle sal help om hul toekomstige rigting beter te verstaan. Die uiteindelike doel van enige ouer behoort te wees om ‘n gebalanseerde, selfstandige, verantwoordelike en gelukkige jongmens groot te maak.
Dit is slegs moontlik deur betrokke te wees, tyd saam met hulle deur te bring en hul drome en uitdagings ernstig op te neem.
Matriek is ‘n spanpoging - wees daar vir jou kind, en help hulle om hierdie belangrike jaar suksesvol te voltooi.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’