MOTOR NUUS - Vir ervare 4x4-ryers is die toer wat ek so 'n tyd gelede saam met die 4x4 ATV-klub aan die Wildekus beleef het, seker nou nie so uitdagend nie, maar dit bly 'n ongelooflike belewenis.
En as jy nou regtig oor berge en dale wil karjakker, is daar baie kanse om meer uitdagende paaie te ry.
Ons toergroep het ware 4x4 leke ingesluit - bestuurders soos ek met min of geen 4x4 ervaring - so ons het maar by grondpad en redelike gelykpaaie gehou. Jy moes egter darem weet hoe om 'n voertuig se bande op die regte tyd en manier op en af te blaas - so hier en daar was dit ook nou nie so maklik nie.
Die ervare bestuurders het my egter op my gemak laat voel en met raad en hulp bygestaan.
Elke besoeker het met die intrapslag vinnig besef watter diere deel van die Transkei se 'groot vyf' is. Honde, bergbokkies, beeste, donkies en varke is ewe gemaklik langs die pad as daarop, terwyl kinders nader hardloop sodra hulle die konvooi voertuie sien en dan skree almal gelyk, "Sweet, sweeeeeeet, sweeeeeet, sweet".
So, jou konsentrasie word taamlik beproef en is jy altyd op die uitkyk vir iets of iemand wat nie op die pad hoort nie.
Rondawels is wyd en syd op die hoogste bergtoppe en in die valleie gebou. Dit het van die besoekers wat al na Lesotho getoer het, juis aan dié land se vlaktes herinner. Met geen rigtingaanwysings behalwe GPS-koördinate nie, het die kronkelgrondpaaie ons deur die bergpasse tot by ons verskillende bestemmings gelei.
Hier en daar het ons 'n uitdagende stukkie 4x4 pad teegekom, maar niks wat ons onervares nie met die hulp van die veterane kon baasraak nie.
White Clay kampterrein. Regs bo sit van die hutte wat jy oral sien.
Soveel meer
'n Unieke ondervinding het op Lupatana in die Oos-Kaap op ons gewag. Nadat ons die voertuie parkeer het, moes almal mooi dink oor wat hulle wou saamdra... Lupatana is aan die oorkant van die strandmeer, sowat 35 meter breed.
Hier is geen brug nie en mens loop verkieslik tydens laagwater deur. 'n Portier of twee kan help dra, maar die res moet jy self oor die water kry.
Dit is 'n ongerepte stukkie aarde met primitiewe, maar gerieflike toegeruste tente en 'n gemeenskaplike kombuis.
Elke tent het 'n badkamer met 'n toilet, stort met warm water en wasbak. Hier klots die golwe tot 10 meter hoog teen die rotse. 'n Maklike voetpaadjie lei jou tot by Waterfall Bluff - een van net sewe watervalle ter wêreld wat in die see stort.
Dit voel kompleet of mens deur die Skotse hooglande stap met die see en dolfyne aan die onderkant.
By Sharks Point slaap jy in houthuisies wat eerder as 'n skuiling beskryf kan word.
Die Magwa-valle is iets wat almal moet beleef. Foto: Marlene Uys Pinterest
Lewensverrykend
Op pad na Mbotyi-kampterrein ry ons deur die Magwa Tea Estate om na die 142 meter hoë Magwa-valle te gaan kyk. 'n Natuurskepping wat die asem wegslaan en iets wat elkeen in sy leeftyd moet ervaar. Wees egter maar versigtig vir bedelaars en kamtige "toerleiers".
Op pad na Sharks Point, voel dit of mens tot aan die einde van die aardbol ry. Dit was een van die mees primitiewe en ongerepte dele wat ons besoek het.
Met ons aankoms was daar geen elektrisiteit nie, want, wanneer die dorpie se krag af is, het niemand krag nie.
'n Donkie word gestook vir warm water en elkeen moet self water in die toiletbak skep. 'n Klipstrand lê aan die voet van Sharks Point en jy het die see net vir jouself wanneer jy met sonsopkoms die branders aandurf.
Waterfall Bluff in volle glorie.
Ons vertrek verder na Koffiebaai wat die tuiste van die bekende Hole in the Wall is, maar indien jy fiks genoeg is, is hier baie meer om te sien.
By White Clay Lodge Camp het ons kamp opgeslaan en kon elkeen sy bestelling vir aandete by die restaurant gee. Van White Clay vertrek ons na Trennery's hotel en kampterrein in Centane. Op die strand kan jy nog mooi, heel skulpe optel.
The Gates lei tot by dié verfrissende bergpoel.
Ons bly hier vir twee dae en maak 'n Trevor Wigley-toer mee. Dié toer het staproetes en twee bootritte ingesluit. Met die bootrit vaar jy deur wat inwoners The Gates noem. Hier sien 'n mens weer 'n ander soort natuurskoon tussen kranse met waterweë wat lei na bergpoele en watervalle. 'n Klomp van ons was ook braaf genoeg om van die kranse in die koel bergwater te spring.
Na twee weke van goeie weer, eindig die toer op Morgansbaai met 'n loeiende wind en swaar reën.
Daar het almal hulle eie rigting ingeslaan en die lang teerpad huis toe aangedurf. Glad nie so lekker nie, maar met 'n oop kop vol ongerepte prentjies en onvergeetlike ervarings.
Sharks Point se klippiesstrand.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'