Met drie rye sitplekke bied die Ertiga plek vir tot sewe insittendes, terwyl die ruimtedoeltreffende kombinasie van voorwielaandrywing en die voorgeplaaste enjin 'n ruim kajuit waarborg. Die Ertiga word gebou op dieselfde onderstel as die gewilde Swift-luikrugmotor met volop sit- en pakplek.
Die Ertiga word deur Suzuki se jongste, brandstofdoeltreffende K14B-viersilinderenjin aangedryf. Die brandstofingespuite kragbron van 1,4 liter is veral vir sy doeltreffendheid en werkverrigting bekend met wakker reaksie en brand-stofverbruik onder die beste in sy klas.
MODELREEKS
Die Ertiga-modelreeks bestaan uit vyf weergawes met 'n keuse van drie toerustingvlakke. Dit is die GA, GL en GLX wat met 'n vyfgang-handratkas en 'n outomatiese viergangratkas gekies kan word.
"Die bekendstelling van die nuwe Ertiga verteenwoordig 'n nuwe hoofstuk vir Suzuki in Suid-Afrika," sê Francois van Eeden, nasionale bemarkingsbestuurder van Suzuki Auto SA. "As vervaardiger is ons al bekend vir uitsonderlike kompakte motors en die Ertiga brei daardie reputasie vir die eerste keer na die LVN-nismark uit."
KONSEP
Suzuki se ontwerpspan is aangesê om 'n ruim, veelsydige voertuig met sitplek vir sewe en genoeg pakplek te ontwerp, wat boonop so rats en doeltreffend as 'n kompakte luikrugmotor is. Die Ertiga se onderstel is relatief lank met breë spoorwydtes voor en agter, kort bakoorhang en algemene vorm se resultate is afmetings na aan dié van 'n motor. Die voertuig is gevolglik soepel en rats om te bestuur soos ons by die bekendstelling in Oos-Londen ondervind het. Beskikbare binneruimte word slim benut en die drie rye sitplekke het genoeg plek vir sewe. Die derde ry sitplekke is relatief gerieflik, selfs vir twee volwassenes. Boonop is dit heel gerieflik om in en uit te klim omdat die sitplek-ke maklik verskuif en vou.
Die Ertiga se gerief word ook in die ratse reaksies en beweeglikheid weerspieël. Die stuurreaksie is akkuraat en die K14B-viersilinderenjin is wakker. Die draaisirkel is ook net 10,4 meter.
PRAKTIES
Die nuwe Ertiga is 4 625 mm lank, 1 695 mm breed en 1 685 mm hoog met die wiele in die hoeke, wat meer ruimte binne skep. Die binne-afmetings is 'n ruim 2 665 mm lank, 1 415 mm breed en 1 310 mm hoog. Die drie sitplekrye kan op verskillende maniere aangepas word vir die verlangde kombinasie van sitplek en laairuimte. Die derde ry sitplekke kan platgevou word vir 'n meer konvensionele kombinasie van vyf sitplekke en ruim pakplek agter. As nog laairuimte benodig word, kan die tweede en derde sitplekrye albei platgevou word. As al sewe sitplekke benut word, bied die Ertiga pakplek van 135 liter en met die agterste ry sitplekke plat, word die laairuim groter: 482 liter en altesame 736 liter is beskikbaar as die middelste sitplekry platgevou is.
Die bagasieruim se laaivloer is plat sitplekrye platgevou is wat laaiwerk baie makliker maak. Die tweede ry sitplek-ke is 60:40 verdeel, wat 'n verskeidenheid kombinasies moontlik maak.
Die middelste sitplekry kan tot 240 mm vorentoe of agtertoe geskuif word vir ekstra beenruimte.
Die Ertiga het baie bekerhouers en bêreplekke soos 'n ekstra rakkie in die instrumentepaneel, bottelhouers en bêresakkies agter die voorste sitplekke.
ENJIN
Al vyf weergawes van die Ertiga word deur dieselfde K14B-enjin aangedryf.
Die 1 373 cc-viersilinderkragbron het elektroniese brandstofinspuiting en veranderlike kleptydreëling vir die beste kombinasie van verrigting en doeltreffendheid. Die resultaat is maksimum-kraglewering van 70 kW teen 6 000 r/min, met wringkragpiek van 130 Nm teen 4 000 r/min. Die veranderlike kleptydreëling sorg vir optimale wringkrag of kraglewering teen 'n hoër snelheid.
Die Ertiga GA-intreevlakmodel is slegs met 'n vyfgang-handratkas beskikbaar en die GL en GLX-weergawes ook met die keuse van 'n outomatiese viergangratkas. In alle gevalle word die krag na die voorwiele oorgedra.
Die Ertiga se gepubliseerde brand-stofverbruik is 6,6 liter per 100 km in 'n gekombineerde siklus.
VEILIGHEID
Die Suzuki Ertiga bied hoë vlakke van aktiewe en passiewe veiligheid vir die hele reeks.
Dubbele lugsakke voor is standaardtoerusting vir al drie spesifikasie-vlakke, asook driepunt-rukstopgordels vir die voorste passasiers en kantpassasiers in die tweede en der-de ry met 'n skootgordel vir die middelste passasier in die tweede ry.
Nekstutte vir die bestuurder en voorste passasier is standaard in die GA-model, terwyl GL- en GLX-weergawes nekstutte vir al sewe sitposisies bied. Die hoofraam van die passasier-veiligheidsel word beskerm met ekstra-sterk staal in geval van 'n botsing, terwyl die voor- en agterdeure met botsskermstawe toegerus is.
ABS-sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding (EBD) word ook in die hele reeks aangebied vir beheer, selfs wanneer baie hard in 'n noodsituasie gerem word.
REEKS
Die Ertiga-reeks bestaan uit vyf weergawes. Die GA is met 'n vyfgang-handratkas beskikbaar, maar het 'n indrukwekkende lys standaardkenmerke: staalwiele van 15", deurhandvatsels en C-pilare in swart, modderklappe voor en agter. Binne het die GA 'n kantelverstelbare stuurwiel, elektriese kragstuur en 'n digitale ritrekenaar met horlosie, huidige brandstofverbruik en reikafstand. Lugversorging is ook standaard. 'n 12V-kragpunt word in die middelste konsole voorsien, terwyl die brand-stof-hervulklap van binne oopgemaak kan word. Die tweede sitplekry is 60:40 verdeel, en met 'n enkelaksie-inklimstelsel en glyverstelling toegerus, terwyl die rugleuning ook verstel kan word.
Die Ertiga GL het dieselfde toerusting met bypassende deurhandvatsels, modderklappe en buitespieëls met geïntegreerde rigtingaanwysers. Binne spog die kajuit met deftige doekstofbekleedsel en silwer aksente aan die deurpanele en rathefboom. Die instrumentepaneel het twee aanwysers vir snelheid en enjintoere, met dieselfde ritrekenaar as die GA.
Die GL bied ook 'n geïntegreerde klankstelsel met 'n FM/AM-radio en skyfspeler. Dit kan ook WMA- en MP3-musiekleêrs speel. Die stelsel het vier luidsprekers en 'n USB-poort vir geheuestokkies of iOS-toestelle soos 'n iPhone of iPod.
Vensters voor en agter is elektries beheer, die GL het afstandbeheerde sluiting en afsonderlike lugversorging vir passasiers voor en agter. Die GL kan met 'n vyfgang-handratkas of 'n outomatiese viergangratkas bestel word.
Die vlagskipmodel is die Ertiga GLX met bykomende geriefskenmerke. Een van die opmerklikste verskille is mooi allooiwiele van 15" en misligte voor.
Binne het die stuurwiel beheer vir die klankstelsel en die ritrekenaar se funksies is uitgebrei met 'n tempera-tuurmeter vir buite. Die klankstelsel het twee ekstra luidsprekers. Soos die GL, kan die GLX met 'n handratkas of outomatiese ratkas bestel word.
BESONDERHEDE
Al vyf Ertiga-modelle het 'n waarborg van drie jaar of 100 000 km, asook 'n diensplan van vier jaar of 60 000 km en een jaar padbystand. Die diensinterval is elke 15 000 km. Pryse is as volg: 1,4 GA MT - R159 900; 1,4 GL MT - R179 900; 1,4 GL AT -
R194 900; 1,4 GLX MT - R192 900; 1.4 GLX AT - R207 900.
Daar is tóg genoeg beenruimte vir die derde ry se passasiers, soos Noreen Perryman van Caxton Auto-dealer South Coast tydens die bekendstelling in Oos-Londen demonstreer. Foto Anica Krüger
Suzuki Auto Suid-Afrika se besturende direkteur, Yukio Sato, by leerlinge van die Buluga Primary School naby Oos-London waar die vervaardiger betrokke is by 'n sosiale hulpprogram. Deel van die bekendstelling was 'n besoek aan die skool. Foto Anica Krüger
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein-Karoo nuus'