Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Ofskoon wyd en uiteenlopende reaksie ontvang is oor moontlike planne om kissies en gedenkstene vir afgestorwenes aan die suidwestelike punt by Victoriabaai te verwyder, wag inwoners nou vir terugvoering van die owerhede.
Die George Herald het verlede week berig dat inwoners van die gewilde oord tydens 'n vergadering in Desember, eenparig besluit het dat daar gepoog moet word om dit te verwyder.
Daarna het dit gegons op die koerant se Facebook-blad oor dié planne. Verskeie lesers het hulle daarvoor en ander het hulle daarteen uitgespreek.
Een van die inwoners het gesê hulle gaan nie in die stadium verder kommentaar lewer nie. Hulle het kennis geneem van die menings en sal later in die openbaar kommentaar lewer.
Volgens die inwoner is hulle nie onsensitief teenoor die families nie, maar op die oomblik is dit buite beheer.
Athane Scholtz, munisipale woordvoerder, het gesê die munisipaliteit se departement omgewingsdienste het nie offisieel skrywe van enige groep of entiteit ontvang wat vra vir die verwydering van die kissies by Victoriabaai nie.
Kyk 'n video hieronder:
Wat sê lesers op Facebook
Jannie Engelbrecht: "My innige simpatie met die wat hul geliefdes aan die dood moes afstaan, maar hierdie gier moes nooit toegelaat geword het nie. Oral teen die kus begin dit by sommige gewilde strandoorde soos begraafplase lyk. Vanaf gedenkplate tot kruisies en gedenkbanke. Daar is 'n plek vir alles, maar strandoorde is definitief nie gedenkparke nie."
Marie Boshoff: "Strooi die as daar as jy wil, maar verwyder die kissie en die plaatjies."
Naomi van Tonder: "Vir die mense wat daar woon is dit sekerlik nie aangenaam om heeltyd in dit vas te kyk nie, ek neem hulle nie kwalik nie. Dit bederf die mooi natuurskoon. Sekerlik kan daar 'n ander plan gemaak word ... dit is tog nie 'n begraafplaas nie."
Gina Oosthuysen: "Dit beteken vir baie mense soveel om hulle familie/geliefde se oorskot daar te kan plaas, jy sal nie verstaan tensy jy self in daardie posisie is nie. My ouma se gunsteling liedjie was Victoriabaai van Lucas Maree, ek sou geëerd gevoel het om daar by 'n gedenkplaat vir haar te kon gaan sit. Dit is baie selfsugtig om dit te laat verwyder."
Rina van der Merwe: "Ek kan nie sien hoekom nie. Tensy jy ’n kind verloor het maak dit jou bang. Ek is van Durban en het daar gestap en vreugde van stilte het oor my gekom. Heroorweeg asb. hierdie verskriklike besluit van julle. Dit help ons ander ouers. Vreeslik dankie."
Amanda S Burger: "Gedenkstene is 'n vorm van respek, 'n memory-plek waar gestorwenes soms vóór hul dood vra 'waar hul wil lê'. Ek voel daar moet dalk 'n stukkie (grond) eenkant en apart van die publieke area afgekamp of opgerig wees sodat mense hul geliefdes se laaste wens kan uitvoer. Dan moet daar beslis ook 'n beperking op die vorm/grootte van só gedenkplaat/-steen wees!"
Is dit onwettig?
Volgens Johan Rousseau, voorsitter van Fira (Funeral Industry Reformed Association) is dit, wat hom betref, nie onwettig om as daar te strooi of te stoor/berg nie. Fira is ’n nie-regeringsorganisasie wat na belange van die publiek en die bedryf omsien.
Volgens hom is regulasie 363 van die Gesondheidswet van 2013 nie van toepassing op die stoor/strooi van as nie. Die regulasie verwys slegs na hoe begrafnisondernemers hul ondernemings bestuur in terme van die Gesondheidswet. Volgens hom word dit nie eers behoorlik toegepas nie. Die Gesondheidswet het geen relevansie op die stoor/strooi/berging van as nie.
Walter Hendricks, direkteur gemeenskapsdienste van die George-munisipaliteit het gesê ingevolge Verordening op Begraafplase en Krematoriums mag kissies met as slegs bo-op 'n bestaande, wettige graf geplaas word en 'n plaatjie mag daar aangebring word. Gedenktekens mag ook slegs in begraafplase aangebring word. Daar is nie tans spesifieke bepalings in die verordening wat die kissies soos dit by Victoriabaai verskyn verbied nie, maar die George-munisipaliteit se besluit is dat “openbare rou” – soos om byvoorbeeld kranse op lamppale langs paaie aan te bring – nie ondersteun word nie en ‘n kennisgewingbord by die strand verbied dit. In gevalle soos lamppale, wat op publieke grond is, word kranse gewoonlik deur die munisipaliteit verwyder, maar Victoriabaai se kissies is op grond wat aan die Garden Route-distriksmunisipaliteit behoort.
Die George-munisipaliteit sal via die munisipale bestuurder se kantoor 'n skrywe in hierdie verband aan die Garden Route-distriksmunisipaliteit se munisipale bestuurder rig.
George is van mening dat die kissies nie daar toegelaat moet word nie, dat die Garden Route-distriksmunisipaliteit ‘n kennisgewing moet uitreik en die eienaars van kissies 'n tydperk gee om die kissies te verwyder, en dan die oorblywende kissies self verwyder.
* Victoria Bay residents do not currently want to comment on the widespread public reaction to the fact that they want the informal memorial site at the western end of the bay to be cleared. The George director of Community Services Walter Hendricks said while there are no existing regulations that prohibit the placement of ashes and urns like at Vic Bay, the municipality does have a policy that "public mourning" is not supported. However, the site belongs to the Garden Route District Municipality (GRDM) and a letter will be sent to its municipal manager in this regard.
'n Bos by die suidwestlike punt van Victoriabaai is ook skoongemaak omdat mense onwettig daar gewoon het. Foto: Eugene Gunning
'n Gedenksteen vir wyle Lucas Maree, bekende Afrikaanse sanger by die suidwestelike punt van Victoriabaai. Foto: Eugene Gunning
Die kissies met as van gestorwenes en gedenkstene by die suidwestlike punt van Victoriabaai. Foto: Eugene Gunning
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'