Update
TUINROETE NUUS - Toe die negejarige Lelitha Jantjies die handspiëel verlede Vrydag vashou, was haar eerste woord "wow". Hierdie dapper meisiekind het op 11 September 'n operasie in die Advanced Health-daghospitaal in Knysna ondergaan om diep littekens aan haar gesig met plastiese chirurgie te verbeter.
Lelitha is sowat 'n jaar gelede deur die gesin se Amerikaanse veghond (pit bull) aangeval. Haar gesig is in die voorval verskeur. Deur die dr. Ansua Stigting is die operasie verlede week gratis uitgevoer.
Dr Ansua Steyn, die dryfveer agter die operasie, sowel as Lelitha se ma, Ahisa Louw, reken die operasie was 'n groot sukses.
Vier dae na die operasie is Lelitha weer saam met haar ma en boetie, Luciano, na die hospitaal vir haar eerste opvolgbesoek.
"Ek as ma was in trane. Luciano het haar handjie vasgehou. Daar is 'n baie groot verandering, mens kan dit duidelik sien. Dis baie mooi. Hulle help ons nog deurentyd met boodskappe en geskenke," het Ahisa gesê.
Lelitha se tweede opvolgbesoek was Dinsdagoggend, waartydens van haar steke uitgehaal is. Sy is ondersteun deur haar boetie en 'n vriendin van die gesin, Saskia Swarts (18).
"Lelitha is baie braaf," het haar ma gesê. Haar volgende besoek is môre, 22 September.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’