Beamptes van die gemeenskapskorrektiewe diens (Gemkor) op George het verlede Woensdagaand, 99 buite-gevangenes by hul huise besoek om toe te sien dat hulle by hul voorwaardes hou.
Blanco, Pacaltsdorp, Conville, Rosemoor, Thembalethu, George en Hoekwil is van die areas wat besoek is.
Altesaam 16 gevangenes het skriftelike en/of finale waarskuwings gekry omdat hulle hul parool- of korrektiewe toesigvoorwaardes verbreek het.
Drie persone is in hegtenis geneem weens die verbreking van hul voorwaardes. Hulle het reeds voor die toesig-komitee verskyn en waarskuwings ontvang. Die komitee het nie een van die vrygelatenes se buite-straf omskep nie en mag hulle voortgaan om hul buite-straf uit te dien.
Die komitee kan in erge gevalle besluit om gevangenes se parool in te trek en sal hulle die res van hul vonnis in die tronk moet uitdien.
In Pacaltsdorp is ‘n jeugdige aangekeer nadat hy van beamptes en polisie weggehardloop het. Hulle het hom na ‘n rukkie in die oop vlakte oorkant sy huis opgespoor.
In Syferfontein is die veroordeelde moordenaar en gewese bendeleier Luciano Williams ook vasgetrek. Met die polisie se aankoms by sy huis is hy betrap waar hy glo tik aan sy vriendin oorhandig het. Albei is op die toneel inhegtenisgeneem.
In Blanco is ‘n oud-gevangene, Luciano Kiewiets deur beamptes naby sy huis voorgekeer omdat hy met ‘n tronkuniform in die publiek rondgeloop het. Hulle het Kiewiets na sy blyplek vergesel waar hy die uniform aan hulle moes oorhandig. Die vermoede is dat Kiewiets die uniform onder sy klere aangehad het met sy vrylating vroeër uit die gevangenis op George. Kiewiets het nie gedink hy het enigiets verkeerd gedoen nie en wou heeltyd by die beamptes weet wat dan nou hulle probleem is.
Me. Morgan, hoof van Gemkor het voor hul vertrek op die klopjag gesê die departement het ‘n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap en die vrygelatene om te verseker dat hy die regte leiding en toesig kry terwyl hy op parool is.
Sy sê hulle moniteer die gevangenes se vordering na hul vrylating en doen gereeld huisbesoek met ‘n spesiale moniteringsaksie een keer ‘n kwartaal.
Gemkor bied ook verskeie rehabilitasieprogramme aan wat die vrygelatenes deurloop.
.jpg)
Peter Yawe, ‘n plaaslike sakeman, was ook een van die korrektiewe toesig gevalle wat die beamptes besoek het. Hy is vroeër skuldig bevind aan bedrog.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA