GEORGE NUUS - ‘n Voorval in Pacaltsdorp vroegoggend, Vrydag 28 Junie, het inwoners van Memoirstraat in skok gelaat. Volgens ooggetuies is ‘n vrou na die hospitaal geneem nadat sy twee keer deur ‘n ander inwoner met ‘n motor raakgery is.
George Herald was omstreeks 09:00 op die toneel waar die voorval glo plaasgevind het.
Stukkies van ‘n voertuig se ligte en ‘n nommerplaat was steeds op die toneel. Die plek, wat deur ooggetuies aangedui is as die area waar die vrou raakgery is, toon kolle wat lyk soos bloed. Remmerke is ook in die pad gewaar.
Volgens die ooggetuies het ‘n onderonsie oor boumateriaal tot ‘n geskil gelei, wat buite beheer geraak het.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het vanoggend bevestig dat hulle nog nie ‘n klag oor die voorval ontvang het nie en niemand is in hierdie stadium in hegtenis geneem nie.
Navrae oor die gebeure is gestuur en verdere terugvoer word afgewag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’