Sy was die gasspreker by Emmaüs se jaarvergadering. Sy het verduidelik dat die pas afgelope inskrywingsproses wat in Maart en April plaasgevind het, slegs 'n voorlopige registrasie was. Begunstigdes wat voorheen in besit was van 'n blou kaartjie wat deur All Pay uitgereik is, moes gedurende hierdie registrasieproses 'n nuwe (tydelike) kaartjie, 'n 'Master Card' ontvang het.
Dit bevat persoonlike inligting van die kaarthouer. (Mense wie se toelaes voorheen direk in hul bankrekenings inbetaal is, sou nie 'n 'Master Card' ontvang het nie.)
'n Finale registrasieronde in die George-gebied volg in September vir begunstigdes wat hul toelaes in kontant ontvang. "Details van die proses sal in Augustus deur middel van vergaderings en inligtingspamflette gedurende uitbetalings aan begunstigdes uitgedeel word. Plakkate sal op strategiese punte geplaas word om registrasiepunte aan te dui," het Wewers gesê.
Mense bo 75, bedlêende persone en bejaardes in ouetehuise sal per afspraak besoek word om registrasie in die gerief van hul eie tuiste af te handel.
Die proses sal biometriese vingerafdrukke insluit.
Volgens Wewers moet 33 000 mense in die George-gebied in September geregistreer word. Daar sal 19 registrasiepunte in die area opgestel word.
'n Permanente Sassa-debietkaart wat 'n skyfie bevat met volledige persoonlike inligting van die begunstigde, sal dan uitgereik word.
Met hierdie kaartjie sal begunstigdes by Saverite, Pick n Pay, Shoprite, Checkers en Spar kan inkopies doen en geld trek, en ook onttrekkings doen by enige OTM. In die geval van OTM-onttrekkings sal bankkoste betaalbaar wees.
"Hierdie kaartjie mag nie in enigiemand anders se besit gelaat word nie, veral nie leningsmaatskappye nie. In so 'n geval sal betaling aan die begunstigde opgeskort word. Dit is alles om te voorkom dat mense uitgebuit word en dat toelaes in die verkeerde hande beland," het Wewers gewaarsku.
Registrasie in 2013
Begunstigdes wie se toelaes direk in 'n bankrekening inbetaal word asook dié in ouetehuise en inrigtings vir persone met gestremdhede sal eers van 1 Januarie tot 31 Maart 2013 geregistreer word. Kennisgewings sal vooraf aan hierdie mense uitgestuur word.
Die maatskappy Cash Pay Master Services (CPM) is aangestel om die uitbetalings te doen.
Sassa doen direk verslag aan die nasionale minister van maatskaplike ontwikkeling.
Skakel 044 801 4300 vir navrae.

Distriksbestuurder van Sassa Delores Wewers (links) was die gasspreker by Emmaüs se jaarvergadering. By haar is lede van die gehoor, (van links) Sara Jacobs, Susanna Hartzenberg en Gereldo van Wyk.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS