GEORGE NUUS - In die hart van Covid-19, op 8 Julie 2020, is twee dogtertjies, Lienke-Mae Oelofse en Mihlé Smith, slegs ’n uur van mekaar gebore in MediClinic George.
Albei se mammas, Amuré en Bianca, het hul babas onder sorg van dieselfde dokter verwelkom en boonop ’n kamer gedeel in die kraamsaal.
Min het hulle geweet dat dié ontmoeting die begin sou wees van ’n besondere lewenslange vriendskap.
Lienke-Mae, die derde van vier kinders in die Oelofse-gesin van Hoekwil, en Mihlé, die enigste dogtertjie van die Smith-gesin van George, het van hul eerste dag af ’n spesiale band gedeel.
Omdat hulle op dieselfde dag gebore is, het hulle ook jaar na jaar dieselfde doktersafsprake en inentings gekry.
Hierdie “afsprake” het gou omskep in klein gesellighede tussen die ouers, wat elke keer ’n geleentheid gemaak het om saam te kuier, gesels en mekaar se maatskap te geniet.
Die twee huisgesinne het só oor die jare heen ’n hegte verhouding opgebou.
Vandag, vyf jaar later, is Mihlé en Lienke-Mae steeds onafskeidbaar en vier hulle elke jaar hul verjaarsdae saam – met groot opgewondenheid en dubbel die koek en kersies!
Die pappas, wat aanvanklik net mekaar in die wagkamer geken het, is intussen ook goeie vriende wat gereeld saam gesels en lag.
“Dis wonderlik om te dink dat ’n toeval soos dieselfde geboortedag en hospitaalkamer só ’n kosbare vriendskap kon bring – nie net vir die kinders nie, maar vir ons almal,” sê Amuré en Bianca.
In ’n tyd van maskers, afsondering en onsekerheid het hierdie twee gesinne iets besonders ontdek: hoop, vriendskap en familie – alles het begin in daardie stil hospitaalkamer in Julie 2020.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’