GEORGE NUUS - Conville Primêr mag dalk deesdae soos 'n bouperseel lyk, maar dinge is besig om vorm aan te neem en die toekoms lyk spoggerig. Waarnemende skoolhoof, Colin Titus, het George Herald genooi om te kom kyk wat alles op hul skoolterrein aangaan.
Sommige projekte is klaar, ander is in wording, maar in totaal kry Conville Primêr agt splinternuwe mobiele klaskamers, 'n kombuis, twee nuwe toilette, 'n administrasiegebou en boekstoor, splinternuwe dakke vir al die geboue en 'n netjiese draadheining om die hele skool.
Vir die 1 300 leerders in die skool beteken dit hulle kry amper 'n splinternuwe skool.
Volgens Titus was dit aanvanklik die idee om die skool oor te bou, maar met die finansiële inperkinge van die Wes-Kaapse departement van onderwys is daar uiteindelik besluit om net groot dele oor te bou. Titus bedank die departement en kringbestuurder, Thembikile Bango, vir hul volgehoue ondersteuning.
"Onder die omstandighede doen die opvoeders hul deel. Die verbeteringe sal tot Junie duur," het Titus gesê.
'n Groot deel van Conville Primêr is onder konstruksie.
Uitdagings
Terwyl Titus vertel van hul uitdagings met inbrake, en hoe die personeel hul bes doen om ongewenste gaste buite te hou, selfs deur die dag, word hy nader geroep deur 'n werker wat wil seker maak of 'n besoeker wel toestemming het om boumateriaal van die perseel te neem.
Die voorval het ten aanskoue van George Herald gebeur, en byna op 'n groter konfrontasie uitgedraai. Die man was nie tevrede met die hoof se antwoord nie, en het 'n gholfstok teen 'n paar los blikke vasgeslaan voor hy daar weg is.
Waarnemende skoolhoof Colin Titus (regs) konfronteer ’n man wat van die boumateriaal wil wegdra. Dit het mooipraat gekos voordat die persoon die saak laat gaan het.
"Dit gebeur hier elke dag," het Titus gesê. "Dit is moeilik om beheer te hou as mense hulself die reg gun om eenvoudig 'n plek te stroop vir eie gewin."
'n Onlangse inbraak het Titus op sy hoede om verdere potensiële voorvalle te vermy. "Een inbraak word gewoonlik deur nog gevolg."
Sterk ligte, kameras en 'n geëlektrifiseerde heining sal help om die skool te beveilig. Dit is egter nie deel van die begroting nie.
Hierdie graadeentjies is reg vir ontbyt. In die groepie is Roshaan Bruiners, Jaylin Whites, Shaywin Alaart, Reshaan Philander en James Bostander met juffrou Harriette Klaassen (gr. R) en Maxine van Wyk (links agter). Foto's: Michelle Pienaar
Bate vir gemeenskap
Enigiets wat by die skool gebeur het 'n direkte invloed op die gemeenskap. "Behalwe dat die skool 'n bate vir die gemeenskap is, bly die gemeenskap om die skool," het Titus gesê.
Conville is een van die oudste skole in die omgewing. Ofskoon Conville Primêr se getalle baie goed lyk vir volgende jaar, wil Titus graag nog groei sien.
"Die skool moet 'n veilige sentrum van leer en onderrig wees. Ons wil tot groter hoogtes styg, maar ons het die gemeenskap nodig. Ek wil graag sien hulle neem eienaarskap van die skool."
- Conville Primêr is tans onder beheer van die distrik. Dit is die voerskool vir George High, Hoër Tegniese Skool Eden, Heatherlands High en Hoërskool Parkdene.
Kombuispersoneel: Maxine van Wyk, Petronella Alaart, Vanessa Williams en Portia Sandaza.
'n Netjiese draadheining span om die hele skool.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’