TUINROETE | KAROO NUUS - Suid-Afrika se junior toutrekkers sê mekaar dié naweek op Mosselbaai se Van Riebeeck Stadion die stryd aan.
'n Indrukwekkende 397 spanne van regoor die land het vir die Suid-Afrikaanse Junior Toutrek Kampioenskappe ingeskryf - 'n nuwe rekord vir toutrek in SA, sê Barries Barnard, die president van die Eden Toutrek Federasie.
Die organiseerders sê ook dit is die grootste enkelsportgeleentheid vir skole in Afrika.
Mosselbaai het al in die verlede SA kampioenskappe vir toutrek aangebied, maar dis 'n eerste vir die juniors, sê Barnard.
Die jongste deelnemers is maar net 6 jaar oud en die oudstes 19.
Ook interessant van dié sport, is dat 'n span van agt (in die hoër gewigsklasse) uit byvoorbeeld sewe matrieks en een graad 8 kan bestaan - solank hulle gesamentlike gewig gelyk is aan of minder as die gewigsgrens is.
As jy die jonges in aksie wil sien en sommer terselfdertyd meer leer oor dié groeiende sport, is Van Riebeeck Stadion beslis die plek vir jou hierdie naweek.
VIDEO: Eden Toutrek se president verduidelik hoe werk die SA's
Die amptelike opening is op Vrydag, 21 Maart, om 08:30 en om 09:00 begin die aksie.
Die publiek is welkom en daar is 'n toegangsfooi van R30 vir volwassenes en R10 vir kinders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’