GEORGE NUUS - Die Jaftha-stigting van George help op die oomblik die onderwysers van die voormalige Rooibootjie-kleuterskool in Syferfontein om 'n nuwe kleuterskool te registreer.
Die hoof van die stigting, Errol Jaftha, sê hulle wil die befondsing verskaf.
Dit volg nadat Rooibootjie, wat sedert 2001 deur die ACVV George-tak bedryf is, sy deure op 10 Desember 2021 permanent moes sluit.
Volgens George ACVV-voorsitter, Rina de Swardt, was die skool nie meer finansieel volhoubaar nie weens die verhuising van gesinne van Syferfontein ('n informele woongebied) na 'n formele-behuisingsarea.
Dalende getalle by Rooibootjie het veroorsaak dat regeringsubsidies verminder, en voortdurende vandalisme, inbrake en diefstal wat veiligheidswagte vereis het, het die projek nog meer onbekostigbaar gemaak.
Klagte by polisie
De Swardt het in Desember 'n klagte by die polisie ingedien teen die Jaftha-stigting nadat laasgenoemde 'n geldinsamelingspoging onder die Rooibootjie-naam begin het. Sy het gesê Jaftha kan Rooibootjie nie "heropen" nie, maar moet 'n nuwe skool registreer.
Dit is as 'n sentrum vir vroeë-kindontwikkeling (VKO) geregistreer onder die ACVV-tak se naam en is sedert 2001 as sulks deur die Departement van Maatskaplike Dienste gesubsidieer. Met die sluiting van die skool, is dit as 'n VKO-sentrum gederegistreer.
"Die regering het besluit dat alle VKO-sentra vanaf 1 April 2022 nie meer onder Maatskaplike Dienste gaan ressorteer nie, maar onder die Onderwysdepartement. Dus kan geen persoon of instansie 'n VKO-sentrum open sonder registrasie by Onderwys nie."
Die kleuterskool is op 'n munisipale perseel geleë wat die ACVV van die munisipaliteit gehuur het.
Nie meer Rooibootjie
Jaftha het vroeër vandeesweek bevestig dat hulle die nuwe kleuterskool volgens al die wetlike vereistes gaan registreer. Hulle het afgesien van die Rooibootjie-naam. "Ons gaan wel die onderwysers help om 'n skool te begin, onder hulle eie registrasie."
Volgens Jaftha is die stigting genader om te help om die skool oop te hou. Hulle het reeds 'n huurkontrak vir die Rooibootjie-perseel met die munisipaliteit onderteken vir 2022. Die geldinsameling wat aanvanklik onder Rooibootjie se naam gedoen is, was 'n eerlike poging om infrastruktuur en toerusting te kan bekom.
"Ons sit met 'n krisis met 63 kinders wie se reg tot opvoeding en veiligheid weggeneem is. Die Jaftha-stigting neem volle verantwoordelikheid om hierdie kinders en onderwysers te help om die skool weer ten volle te laat funksioneer."
Die ACVV, as eienaar van die infrastruktuur van die Rooibootjie-kleuterskool, het toerusting en infrastruktuur van die perseel verwyder. INLAS: Een van die vraghouers wat as klaskamer van die Rooibootjie-kleuterskool gedien het. Die ACVV het dit verwyder om elders aan te wend.
ACVV se eiendom
Hy het die ACVV daarvan beskuldig dat hulle die perseel "gestroop" het van alle infrastruktuur en toerusting, maar De Swardt het gesê die infrastruktuur is die ACVV se eiendom en gaan elders aangewend word.
Volledig toegeruste vraghouers is in 2013 deur die Lotery aan die ACVV geskenk wat die vereniging ná die verloop van vyf jaar na goeddunke mag aanwend. "Die Wendyhuise wat geskenk is, gaan ons ook weer gebruik. Die organisasies wat dit geskenk het, bestaan nie eers meer nie."
De Swardt het bevestig dat Jaftha by die ACVV-kantoor was en gesprek gevoer het oor die voortbestaan van die skool. Tydens dié gesprek het Jaftha namens die stigting die oorkoop van die bates van die hand gewys.
"Die sluiting was 'n baie moeilike en hartseer besluit. Al die nodige en korrekte prosesse is gevolg. Ons vind dit vreemd dat die Jafta-stigting nou veg vir Rooibootjie se heropening, maar geen ondersteuning aan die ACVV verleen het deur al die moeilike tye en vele uitdagings waarmee ons moes worstel nie.
"ACVV, as 'n kinderbeskermingsorganisasie, is dankbaar vir enige persoon of instansie wat betrokke wil raak, om met ons hande te vat, ter wille van die beskerming van kinders. Om enige misverstande op te klaar wil ACVV George dit beklemtoon dat ACVV Rooibootjie nie heropen gaan word nie."
Die ACVV het in 2013 volledig toegeruste vraghouerklaskamers van die Lotery ontvang.
Die ACVV, as eienaar van die infrastruktuur van die Rooibootjie-kleuterskool, het toerusting en infrastruktuur van die perseel verwyder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'