GEORGE NUUS - Daar is steeds geen duidelikheid oor wie die nuwe voorsitter van die munisipale ouditkomitee gaan wees nie. Dit het verlede maand gegons oor die skielike terugtrekking van 'n item tydens die maandelikse stadsraadsvergadering wat voorsiening maak vir die aanwysing van 'n nuwe voorsitter.
In die item is onder meer voorgestel dat Flip de Swardt die nuwe voorsitter van die munisipale ouditkomitee sou word. Hy dien al meer as drie jaar in die komitee en is onlangs aangestel vir nog 'n termyn.
In die item is ook voorgestel dat Christo Lamprecht vir nog 'n termyn in die komitee dien. Die raad moes toe 'n besluit oor die voorstelle neem, maar kon dit nie doen nie omdat dit teruggetrek is. Blykbaar is geen redes verstrek nie.
Leon van Wyk het daarna bevestig dat die item onttrek is en aangedui dat die plan is om 'n item binne die volgende maand na die raad te bring.
Die voorsitterspos het aan die einde van die April vakant geraak omdat die dienende voorsitter, dr. Adele Potgieter, se termyn verstryk het.
Vrae is sedertdien gevra of die item op die agenda sal wees vir vandag (27 Mei) se raadsvergadering.
Van Wyk het Maandag gesê die item is nog nie gereed vir die maand se raadsvergadering nie. Dit sal moontlik gereed wees vir die raadsvergadering in Junie.
Volgens Van Wyk is dit belangrik om te kyk hoe die ouditkomitee met die stadsraad sal saamwerk. Gesprekke in die verband moet nog plaasvind. Hy het benadruk dat die feit dat daar nie 'n voorsitter is nie, nie die werksaamhede van die ouditkomitee benadeel nie.
De Swardt is Dinsdag om kommentaar genader oor die jongste verwikkelinge. "Ek verkies om in die stadium nie kommentaar te lewer," het hy gesê.
Wat is die ouditkomitee?
Dis 'n statutêre komitee wat ingevolge wetgewing funksioneer en volgens streng riglyne onafhanklik en onpartydig moet optree. Tydens elke vergadering moet lede ook hul belange verklaar.
Dit moet onder meer toesien dat die finansiële state van die munisipaliteit die werklike stand van sake weerspieël. Voorts dat die doelwitte waarvoor begroot is binne die finansiële jaar afgehandel word. Die komitee moet ook enige risiko's waaraan die munisipaliteit blootgestel is, aan die stadsraad rapporteer en toesien dat alle wette nagekom word.
Die komitee speel 'n belangrike oorsigrol oor die funksionering van politieke ampsdraers en munisipale amptenare.
There is still no clarity on who will fill the position of chairperson for the municipal audit committee. It was supposed to be considered at last month’s council meeting but the item was withdrawn at the last moment. Mayor Leon van Wyk on Monday said the item is still not ready to be considered at this month’s meeting.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'