GEORGE NUUS - By die Sonskynhoekieklub in Blanco vind 60-plussers van die buurt 'n welkome toevlug waar hulle vriendskappe kan bou, saam kan kuier, avonture beleef, saam kan bid, oefen en vaardighede aanleer om geestelik en fisies te groei.
"Sonskynhoekie gee vir baie van ons 'n rede om in die oggend op te staan. Ná elke byeenkoms gaan ons weg met 'n smile," sê Eve Stoffels, een van die lede.
Die klub vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar. Voorheen was hulle deel van die ACVV, maar het later afgestig. 'n Byeenkoms een keer per week het later drie geword. Die saal van die Blanco VGK is op Maandag-, Woensdag- en Vrydagoggende 'n gesellige bedrywigheid.
Daar word kos gemaak, handwerk gedoen, geoefen en sprekers wat opbouende en leersame praatjies lewer, tree gereeld op.
Lede neem deel aan danse, konserte en sang en het al 'n eerste prys vir baldans by die Golden Games vir seniors huis toe gebring.
Daar is gereelde uitstappies na interessante plekke en lede het ook al reise na ander provinsies onderneem.
Van die huidige lede volg in hul ma's se voetspore wat met die stigting aangesluit het. Johanna Moolman en haar groep vroue, wat tussen 10 en 20 jaar aan die klub behoort, sê die klub dra by tot 'n kwaliteit lewe en bied wonderlike geleenthede vir seniors wat voorheen nooit uitgekom het nie.
Die lede van die Sonskynhoekieklub se geel T-hemde versinnebeeld die lig wat die klub in lede se lewens bring.
"Ons het al met ons toere deur die land gereis en dit baie geniet. Vir lede wat nooit die voorreg gehad het om na ander provinsies te reis nie, was dit heerlik om plekke soos Durban, Port Elizabeth, Kaapstad en Port Nolloth te besoek. Die Here is baie goed vir ons," sê Eve.
Pam van Wyk sê hulle leer vaardighede by mekaar. "En ons bou nuwe en hernieu ou vriendskappe van ons kinderdae. Ons het ook kontak met klubs in die Wes-Kaap.
"Die klub is vir ons 'n ware leerskool en die jonger lede leer van die oueres met meer lewenservaring."
Sonskynhoekie is 'n interkerklike groep en 60-plussers word genooi om aan te sluit. Mans is ook welkom. Dit kos R35 per maand.
Vir meer inligting kan belangstellendes Claudel Draai kontak by 063 688 5049.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’