GEORGE NUUS - George Round Table 30, Friends of the Kat River en Môreson ACVV se leerders en onderwysers het op Saterdag 25 Mei deelgeneem aan 'n skoonmaakaksie van die Katrivier in die Denneoord-omgewing.
Dié rivier is een van drie bergstrome wat die Tuinroetedam van water voorsien. Hope klerasie en plastiekrommel is uit die rivier gehaal.
Friends of the Kat River se woordvoerder, Ken Gie, het 'n beroep gedoen op alle inwoners wat in die omgewing van die rivier woon om verantwoordelikheid te neem vir dié klein bergstroom. Hy het gesê as almal hul deel doen, sal die rivier al klaar minder opgedam word deur rommel.
Desireé du Preez, voorsitter van die Garden Route Dam Action Group (Gardag), het gesê plastiekrommel lei tot mikroplastiek in die water.
"Die probleem met die plastiek wat in ons drinkwater beland, is dat dit skadelike chemikalieë en mikroplastiek vrystel.
"Munisipale waterbehandelingsmetodes en -standaarde is nie gerig op hierdie nuwe besoedelingstowwe, wat ook farmaseutiese middels in riool insluit, in ons water nie.
"Ons het dus geen idee wat werklik in ons drinkwater voorkom nie. Ons beste verweer is om ons riviere skoon te hou en soveel as moontlik te doen om verdere besoedeling van ons water te voorkom."
George Round Table se voorsitter, Stefan du Plessis het gesê sy organisasie sal graag 'n volgehoue aksie van stapel wil stuur.
Hulle visie is dat die groenstrook langs die Katrivier gebruik kan word vir ontspanning deur stappers en fietsryers. Tans vorm die beboste gebied 'n korridor waardeur bosbokke en ander wildlewe beweeg.
Tydens die skoonmaak het deelnemers spontaan gereageer op die mooiheid van die bergstroom en tekens gevind van 'n skugter bosbokfamilie wat hier woon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’