Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - As diere kon praat, sou jy hulle Maandag 9 Januarie nie kon stil kry by Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) in Blanco nie.
Dit was die dag waarop die tienjarige diereliefhebber van George, Luhan Smit, die 1,1 ton honde- en katkos wat hy in Desember ingesamel het, asook speelgoed en komberse vir die troeteldiere, oorhandig het.
Luhan se pa, Kobus, versier sedert 2007 elke jaar hulle huis met die mooiste Kersliggies. Mense wat na die liggies kom kyk, kon skenkings oorhandig. Luhan het die projek Saterdagaand, 31 Desember afgesluit.
Dit was die tweede jaar dat hy dit aangepak het. In Januarie 2022 het hy altesaam 1,4 ton kos aan Odin en die DBV geskenk.
Die pas afgelope projek was oor 'n korter tydperk.
Luhan was Maandag baie opgewonde toe hulle die skenkings oorhandig en het self hand bygesit en werkers van Odin gehelp om die swaar sakke kos te dra.
Hy het ook so lekker met die diere gespeel dat sy ma, Belinda, hom nie daar kon wegkry nie. Hy het daar agtergebly en sy het hom eers later gaan oplaai.
Luhan sê daar is baie diere in nood en mense kyk nie altyd mooi na die diere nie. Hy voel jammer vir die diere, veral die wat mishandel word. "Ek wil net iets doen vir die honde. Mense moet nie net praat nie. Hulle moet ook doen."
Hy daag ander kinders uit om dieselfde te doen. "Hoe meer mense kos vir diere insamel, hoe beter lewe sal hulle hê. As ons jonk is, moet ons regtig goed doen vir diere."
VIDEO - Luhan vertel meer:
Trotse ouers
Belinda sê sy en haar man is baie trots op Luhan. Hy is ongelooflik passiesvol oor dit wat hy doen vir die diere. "Sy hart lê regtig by die diere en ons as ouers ondersteun hom 100%."
Die projek het ontstaan om iets terug te gee vir die gemeenskap. Daar was geen druk van hulle as ouers nie.
Sy sê Luhan sal defnitief aangaan met die projek.
VIDEO - Luhan se ma vertel:
'Ons is oorweldig'
Marlene Mennie van Odin sê die bydrae het hul asems wegggeslaan. "Ons is oorweldig."
Luhan is net 10 jaar oud en het diep in mense se harte en siele ingekruip. "As 10-jarige het hy 'n groot verskil gemaak."
Sy het self in Desember gaan kyk hoe hy die kos insamel. "Hy het mense met oorgawe en vriendelikheid ontvang. Mense kon nie nee sê vir hom nie. Sy ouers kan baie trots wees op hom," sê sy.
"Sy optrede beteken baie vir ons. Hy het die geleentheid gesien. Hy het betrokke geraak en die publiek gekry om betrokke te raak."
Op die oomblik is daar sowat 290 honde en sowat 70 katte by Odin se persele in Blanco en Oudtshoorn. Odin is baie afhanklik van donansies van die publiek.
VIDEO - Asem weggeslaan:
Cyris, een van die honde by Odin.
Vorige artikels:
- Groot opgewondenheid by Odin
- 'n Ton kos vir honde en katte
- Seuntjie (10) help weer troeteldiere in die feestyd
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'