GEORGE NUUS - Die George-span wat gekwalifiseer het om aan die Active Ageing Games se distriksspele deel te neem, het onlangs hulle vere reggeskud tydens 'n oefen- en motiveringsessie by die Van Kervel-atletiekbaan.
Die distriksspele vind plaas op 21 Augustus by die De Jager-sportstadion in Oudtshoorn.
Daar is 60 spanlede wat gaan kragte meet teen spanne vanoor die breë Tuinroete, Hessequa en Klein-Karoo. Blanche Benjamin, voorsitter van die George Forum vir Ouer Persone, wat help met organisering, sê die span het goed gees opgebou en is baie opgewonde oor die vooruitsig van die distrikspele.
"Die publiek word genooi om hulle bejaardes uit die verskillende dorpe te kom ondersteun. Dit gaan 'n heerlike dag wees waar die deelnemers gaan wys oud is nog nie koud nie."
Sy het die onderskeie ondersteuners en borge bedank wat agter die George-span staan: die organiseringskomitee van die George Forum vir Ouer Persone, Van Kervel Skool vir die gebruik van hulle veld, Gert Niehaus van Avbob wat die span se uitrustings borg, en Sean Snyman, Speaker van die George-munisipaliteit wat ook aan die spele deelneem.
Die spanlede is van verskillende senior burger-klubs van regoor George - Meals on Wheels in Thembalethu, Sonskynhoekie in Blanco, Golden Jewels in Pacaltsdorp, CCDP Pacaltsdorp, Old Heroes van Herold, Top Red van Haarlem, die Uniondale-klub, Breathe-klub van George, en Sunshine-klub van Parkdene.
Hulle gaan kragte meet teen seniors van Hessequa, Bito, Knysna, Mosselbaai en Oudtshoorn.
George Speaker Sean Snyman (middel) en Blanche Benjamin ontvang die George-span se uitrustings van Gert Niehaus van Avbob. Foto: Verskaf
Afdelings waaraan hulle deelneem, sluit in ring-om-die-stok, rugbybalgooi, skyfskiet, jukskei, eendstap en bal-aangee. Hardlopers neem deel aan verskeie naelloopafstande en daar is ook 'n stapitem.
In die Wes-Kaap word die Spele deur die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport aangebied as deel van 'n nasionale inisiatief om fisiese en sosiale welsyn onder ouer persone te bevorder.
Benjamin sê hulle ervaring is dat dit 'n baie positiewe impak het op seniors se lewens. Mense maak nuwe vriende en ervaar 'n hernieude sin in hul lewens.
Tydens die oefensessie by Van Kervel. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’