TUINROETE NUUS - Barries Barnard, die president van beide Eden-toutrek en die SA Junior Toutrekfederasie, asook adjunkpresident van die SA Toutrekfederasie, is gister, 4 November, oorlede.
Huldeblyke stroom sedertdien van regoor die streek en land vir dié merkwaardige en passievolle man in.
Barries se vrou, Anita, sê hy was ’n groot legende. “As jy net op sy Facebook of op my Facebook gaan kyk hoeveel mense, en kínders, testimonials van hom skryf, dan besef ’n mens weer hy was ’n ongelooflike man.”
Sy sê jy kom dan agter hoeveel mense se lewens hy eintlik, nie net as onderwyser nie, maar as sportmens in toutrek en as destydse rugbyafrigter aangeraak het.
Sy afsterwe volg ná sowat twee maande se gesondheidskwessies. Anita sê hy was in hierdie tyd gedurig in die hospitaal. Hy het eers ’n hartomleiding ondergaan en daarna, volgens haar, ’n longvirus opgedoen waarvoor hy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is.
Hy was daarna weer huis toe, maar is later wéér opgeneem weens lae suurstofvlakke. Sy sê sy longe het ernstige skade opgedoen en hy moes later op ’n ventilator geplaas word. Weens sy lae suurstofvlakke is sy niere ook aangetas, wat dialise genoodsaak het.
“Hulle het my [Dinsdagoggend] so net voor 05:00 gebel om te sê hy doen nie goed nie. Ongelukkig het die dialise nie die nodige wonderwerk vir ons verrig nie, toe is hy 09:15 oorlede.
“Hy het rêrig n mooi legacy agtergelos - dis net jammer dat ons nie die legacy nog verder kon uitrek nie.”
Barries Barnard en sy vrou Anita by die Eden-sporttoekennings in 2024. Foto: Facebook/Ebrahim America
Die president van die SA Toutrekfederasie, Anton Botha, sê Barries was meer as net ’n administrateur. “Hy was ’n pilaar van krag, passie en toewyding aan die sport wat hy so diep liefgehad het. Deur sy visie en moeite het die Eden-toutrekfederasie tot die grootste streeksfederasie in Suid-Afrika gegroei, ’n bewys van sy leierskap en toewyding aan ontwikkeling op alle vlakke.”
Verlede jaar is hy by die Eden-sporttoekennings as administrateur van die jaar aangewys én, onder sy leiding, het Eden-toutrek ook die trofee vir federasie van die jaar ontvang.
Volgens Botha was Barries gedurende Maart ook instrumenteel in die aanbieding van die Suid-Afrikaanse Junior Kampioenskappe in Mosselbaai - die grootste skoolsportbyeenkoms in Afrika, waar 397 spanne van regoor die land bymekaargekom het.
Die aanbieding van die 2026 Toutrekwêreldkampioenskappe, ook in Mosselbaai, is net nog ’n bewys van sy naam wat sal voorleef. Botha sê dis te danke aan Barries se passie en deursettingsvermoë dat dié geleentheid hierheen kom.
“Sy kalm leierskap, warm hart en onwrikbare geloof in die krag van die sport het aan hom respek en bewondering regoor Suid-Afrika en die wêreld besorg. Barries is en sal altyd as ’n legende in toutrek beskou word; ’n man wie se visie, nederigheid en toewyding die landskap van ons sport vir altyd verander het.”
Behalwe vir toutrek was Barries ook van 2007 tot 2024 ’n onderwyser by Van Kervel Skool in George gewees.
Barries Barnard. Foto: Van Kervel Skool
Anita sê hy was vanjaar deel van die Danlyn Academia-span. Voor Van Kervel was hy ook by Die Bult-jeugsentrum werkagtig, en vir sewe jaar onderwyser by Hoërskool Calitzdorp.
Van Kervel het sy innige meegevoel aan die Barnard-gesin oorgedra en ook ’n roerende huldeblyk uitgereik.
“Hoe kan ’n mens ’n man soos mnr. Barries vergeet? Soveel lewensvreugde! Soveel stories! ’n Legende in toutrekkringe! Iemand wat altyd ’n plan gehad het. Iemand wat jy kon saamvat oorlog toe. Hoe vergeet ons ’n man van 18-karaat kwaliteit? Die antwoord is maklik: nooit nie.
“Mnr. Barries sal nog baie lank in ons koppe boer en in ons harte woon. Daarom kan ons ’n vinger op ons lippe lê en fluister: ‘Sjjjt, ’n groot gees gaan verby...’”
Barries word oorleef deur sy vrou, hul vier kinders en vyf kleinkinders. Amptelike reëlings vir sy roudiens was nog nie teen die ter perse gaan bekend nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’