GEORGE NUUS - 'n Geskil oor boumateriaal het op Vrydag 28 Junie tot 'n klag van 'n poging tot moord gelei toe 'n vrou (38) na bewering twee keer bo-oor 'n ander vrou (33) gery het. Die voorval het omstreeks 05:00 in Memoirstraat, Pacaltsdorp plaasgevind.
Volgens ooggetuies op die toneel het die stryery begin toe 'n hardewarewinkel die vorige Woensdag boumateriaal by die slagoffer se huis in Memoirstraat, in stede van die verdagte se huis, afgelaai het.
Die volgende oggend was daar 'n stryery toe die verdagte glo die slagoffer gekonfronteer het.
Hierdie rooi kolle is op die toneel gevind op die plek waar die slagoffer volgens ooggetuies twee keer deur die verdagte raakgery is. Foto: Jacques du Toit
Ooggetuies vertel dat hulle Vrydagoggend rondom 03:00 'n harde slag gehoor het en gesien het hoe 'n VW Citi Golf vir 'n tweede keer in die houtstruktuur teenaan die slagoffer se huis vasgery het. Die verdagte het van die toneel gevlug en inwoners, insluitende die slagoffer, het langs die straat gewag om te kyk of sy terugkom.
Rondom 05:00 het die verdagte in haar Citi Golf glo teruggekeer. Die slagoffer het die verdagte na bewering ingewag om haar te konfronteer waarna die verdagte twee keer bo-oor haar gery het. Sy het daarna die toneel verlaat. Die slagoffer is met ernstige beserings per ambulans na die hospitaal geneem.
Gedeeltes van die Citi Golf se hoof- en flikkerlig langs die huis waar die verdagte volgens ooggetuies in die huis vasgery het. Foto: Jacques du Toit
Volgens 'n familielid was sy ses ure in die teater weens 'n gebreekte heup en inwendige beserings. Gister, Woensdag 3 Julie, was sy steeds in die hospital.
Sers. Chris Spies Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, het die voorval bevestig en by navraag gesê die verdagte is Vrydag, kort ná die voorval, in hegtenis geneem.
Sy het op Maandag 1 Julie haar eerste verskyning in die George-hof gemaak. Sy is vrygelaat op 'n waarskuwing en moet weer op Donderdag 1 Augustus in die hof verskyn.
Merke is sigbaar op die toneel waar die verdagte die slagoffer volgens ooggetuies raakgery het. Foto: Jacques du Toit
"Ons leef nou in groot vrees want die verdagte is nie meer in hegtenis nie," sê die verhuurder van die erf, Anceleen Terblanche. Blykbaar het die verdagte intussen al na die toneel in Memoirstraat teruggekeer.
Die polisie kon teen druktyd nie die verdagte se naam bevestig nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’