Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die onlangse brande in die Suid-Kaap het baie eiendomme bedreig wat mense genoop het om hul huise te ontruim. Baie diere is deur hul eienaars na die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem, maar hulle het ook baie diere gered en verwyder uit areas waar dit nodig was.
Die DBV moes ook plek maak vir wilde diere wat beseer was. Dit alles het veroorsaak dat daar 'n groot behoefte by hulle ontstaan het.
RotoTank Kaap het toe besluit om watertenks en krippe aan die DBV te skenk om hulle by te staan in hierdie moeilike tyd. Verlede jaar het hulle 'n soortgelyke inisiatief onderneem tydens die Knysna-brande. Daar is watertenks aan verskeie liefdadigheidsorganisasies, veral die wat betrokke is by kinders, bejaardes en diere versprei.
'n Skenking verlede jaar aan die internasionale nood en ramp-reaksiegroep het direk bygedra dat twee huise gered is. Hierdie jaar het RotoTenk weer 'n skenking van vyf 5 000 liter watertenks aan hulle gemaak.
RotoTank George, 'n tak van RotoTank Kaap, het in samewerking met die DBV besluit om vyf 5 000 liter watertenks en 10 waterkrippe aan die DBV te skenk wat dit dan op sy beurt moes versprei aan die areas wat dit die meeste nodig het. Christo van der Merwe, verkoopsverteenwoordiger van RotoTank Kaap en bestuurder van die verspreidingstakke, sê: "Ons wil ook ons innige simpatie deel met almal wat swaargekry het in hierdie moeilike tyd. Ons hoop werklik dat hierdie bydrae 'n groot verskil sal maak."
Die watertenks en krippe wat van RotoTank Kaapstad by die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging afgelaai is.
RotoTank is 'n nasionale vervaardiger en verskaffer van watertenks. Hulle het besluit om die DBV te help omdat hulle 'n besigheidsbelang in die George-streek het, en het gevoel dat dit van uiterste belang is om op een of ander manier betrokke te raak tydens die verwoestende brande.
Gerda Reynders, hoof van opleiding by die Tuinroete DBV het die tenks in ontvangs geneem. Sy sê dat hulle die skenking ongelooflik baie waardeer, en dat hulle die tenks gaan gebruik by die George en Mosselbaai-takke, waar groot diere geskut word. Die waterkrippe sal veral handig te pas kom om hierdie diere water te gee. "Ons gaan ook kyk waar ons hierdie krippe in agtergeblewe areas kan gebruik. Die groot watertenks sal ons gebruik by die skuts om water op te vang en so waterbesparing toe te pas."
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'