Video
GEORGE NUUS - Dave Albertus Myburgh is die vyfde lid van die Myburgh-gesin van Fernridge, en die enigste een met vere.
Adelle Myburgh vertel dit was so middel Desember verlede jaar toe Dave, die ringnek, vir die eerste keer in hul huis ingevlieg het.
"Hy het presies geweet waar hy wil sit - in my kombuis op die werksoppervlakte. Eers het ons gedink dit was 'n eenmalige besoek, maar Dave kom elke middag terug. As dit reënerig is, kom hy al vroegmiddag by ons aan," vertel Adelle.
Met haar vriendin se besoek op 24 Desember het Dave ingevlieg en op haar kop kom sit. "Hy maak homself vreeslik tuis. Daar waar die aksie is, wil hy wees.
"As ek in die kombuis besig is kom sit hy op die potte se handvatsels en loer wat daar binne-in is. As ons televisie kyk kom skop hy 'n nessie in die kombers by my dogter se voete. Hy drink uit die honde se waterbak en sit op die potspeltafel terwyl my man en seun 'n ronde speel. Dis werklik ongelooflik hoe mak hy is."
VIDEO - Dave kuier al te lekker by die Myburghs in Fernridge
Adelle was skottelgoed met Dave op haar kop.
Op die vraag of hulle hom voer, sê Adelle "nee". "Ek het aanvanklik probeer, maar hy is nie eintlik geïnteresseerd nie. Hy wil meer deel wees van die samehorigheid."
Een van Dave se gunsteling- slaapplekke is bo-op die kandelaar in die woonvertrek. Ofskoon die gesin se twee honde hulle tot dusver gedra met die kuiergas, hou Adelle steeds 'n ogie om seker te maak Dave is veilig. "Hierdie is so spesiaal vir ons," sê sy.
Met haar navorsing aanlyn kon Adelle beter verstaan waarom Dave so "mak" is. Sy het uitgevind dat 'n jong ringnek wat só optree wel vreemd is, maar nie onverklaarbaar nie - veral as dit 'n jong, pas-uit-die-nes voël is.
Die hoofredes is glo die feit dat 'n jong duif nog nie geleer het om bang te wees vir mense nie. Indien die voël naby mense grootgeword het, kan hy homself ook verbind met mense en veilig voel in hul teenwoordigheid.
Op die potspeltafel, tussen die aksie.
"Hy volg my soos 'n kuiken sy ouer sou volg, daarom hou hy my dop terwyl ek kos maak en in die huis rondstap. Ringnekke is sosiaal en nuuskierig, en geneig om bande te vorm," sê Adelle. "Hy kuier nie net nie, hy hou 'n band. Ons huis is sy nes."
- Die Myburghs het 'n baie sterk vermoede Dave is dalk 'n Davinia. 'n Mannetjie ringnek het die laaste paar dae in Fernridge kom vlerksleep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’