GEORGE NUUS - Gemeenskapslede van Syferfontein in Pacaltsdorp is omgekrap ná 'n Amerikaanse veghond (pit bull terrier) op Vrydag 5 Oktober deur lede van die Openbare Orde Polisiëringseenheid (Pops) doodgeskiet is.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, was Pops genoop om die hond van kant te maak ná hy hulle na bewering aangeval en verhoed het om hul werk te doen.
Die eienaar van die hond is 'n verdagte wat vir gesinsgeweld en ernstige aanranding gesoek word.
"Sigbare polisiëring sowel as Pops was omstreeks 15:00 by die verdagte se woning om hom in hegtenis te neem. Toe hulle die woning nader, het die hond op hulle afgestorm. Pogings om die hond deur middel van donderbuise en rubberkoeëls onder bedwang te bring was vergeefs en het die hond steeds op die lede afgestorm waarna een van die lede die hond met sy 9 mm-pistool geskiet het," sê Pojie.
Die hond het op die toneel aan sy skietwond beswyk.
Volgens Pojie was die hond vasgemaak aan 'n lang ketting, bekend as 'n runner, wat die totale breedte van die ingang na die huis dek en toegang onmoontlik maak.
"Dit was ook nie die eerste insident waar die honde gebruik is om die polisie te weerhou om optredes by dié woning uit te voer nie."
Ooggetuies wat gesien het hoe die hond doodgeskiet word, het die Tuinroete-DBV in kennis gestel. Inspekteur Henrico Pypers het onmiddellik op die oproep gereageer.
"Toe ek op die toneel aankom was die hond reeds dood, steeds vasgeketting en in die buurman se eiendom. Volgens die ooggetuies het die hond skynbaar na die buurman se erf gehardloop om van die skokgranate te vlug," sê Pypers.
Hy sê ook dat die ooggetuie aan hom vertel het hoe die polisiebeamptes die hond drie keer geskiet het. Een keer in sy hok op die eienaar se erf en twee keer in die buurman se erf.
"Ek voel dit was heeltemal onnodig om die hond dood te skiet. Volgens lede van die gemeenskap was die polisie reeds Maandag daar. Hulle het dus geweet van die hond en hoe aggressief hy is. Gewoonlik skakel hulle ons vir bystand om honde in sulke gevalle te help beheer. Die situasie kon beter hanteer gewees het en dit was nie nodig om die hond te skiet nie," sê hy.
* Community members of Syferfontein in Pacaltsdorp are upset after a pitbull terrier was shot and killed by members of the public order police (Pop) on Friday 5 October. According to the police they were forced to kill the dog after it attacked and prevented them from doing their job. According to the Southern Cape police spokesperson, Captain Malcolm Pojie, the owner of the dog is a suspect who is being sought for domestic violence and aggravated assault.
"Members of the Visible Policing Unit and Pops were on scene at his house to arrest him when the incident took place," he said. However, Garden Route SPCA Inspector Henrico Pypers says it was unnecessary to kill the dog as the police know that they can always call on the SPCA to help subdue an aggressive animal. Pypers said he found the dog's body in the neighbour's yard and that eyewitnesses claimed the dog was shot when it fled from the stun grenades.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'