GEORGE NUUS - Marius Malan, 'n middeljarige man wat al vir 'n klompie jare motors oppas by die George-landdroshof, het onlangs 'n nare ondervinding gehad toe hy deur drie honde aangeval is.
Wat sy ervaring meer pynlik maak, is dat hy ten tye van die aanval tuinwerk gedoen het vir 'n egpaar wat hy oor 'n aantal jare leer vertrou het.
Hulle het naby die hof gewoon en gereeld vir Malan kos gebring.
Volgens Malan het die egpaar hom 'n paar weke gelede, soos hulle in die verlede gedoen het, by die hof kom vra of hy weer in hulle tuin sal werk.
Hierdie keer was dit egter by hul nuwe woonplek op 'n kleinhoewe in Hoekwil.
Hy het saam met hulle gegaan en was skrikkerig toe hy hoor die plaaseienaar het groot honde, maar hulle het hom verseker hy hoef nie bang te wees nie.
Terwyl hy aan die werk gespring het, is hulle weg om inkopies te gaan doen. Hy was ongeveer 'n halfuur besig, toe hy hulle voertuig hoor aankom.
"Ek was besig om te skoffel en toe ek my rug draai om die hark te vat, voel ek iets aan my been en sien 'n hond wat my aan die hak beet het.
"'n Tweede een spring toe vir my keel. Ek het my arm opgelig en in sy bek gedruk om hom te keer. Ek het geskreeu."
Malan sê hy was oorbluf want hy het die honde nie hoor aankom nie.
Hy het erge bytwonde aan sy arm, ribbes, enkel en agter op sy rug opgedoen.
"Gelukkig het die mense presies op daardie oomblik daar gestop, anders was ek seker vandag nie hier nie."
Hulle het die honde gekeer, maar het vir hom gelag, vertel hy.
Marius Malan sê die polisie wou nie 'n saak open teen die die eienaar van die honde wat hom aangeval het nie. INLAS: Die bytmerke is al heelwat beter, hoewel van hulle gesweer het.
Hulle het hom wel dokter toe geneem, en hom daar gelos terwyl hy behandel is.
Malan ken die man vir wie hy gewerk het net as Deon en sê hy is teleurgesteld dat mense wat so goed was vir hom, so harteloos kan optree en hom nie by die honde se eienaar verdedig nie.
Ontsteld en seergemaak het hy ná sy doktersbehandeling 'n klag by die polisie gaan lê.
Daar het 'n beampte sy verklaring afgeneem, maar toe hy die volgende dag (op die polisie se versoek) met 'n verdere verklaring van die staatsdokter daar aankom, wou hulle ewe skielik nie 'n saak registreer nie.
"Ek weet nie waarom nie. Kan die honde-eienaar maar net daarmee wegkom wanneer sy honde iemand verniel?
"Ek ken nie die man se naam nie, maar ek weet waar hy woon. Die polisie kan mos gaan ondersoek instel."
'n Navraag in verband met die voorval is byna twee weke gelede na konstabel Rachel Hendricks, kommunikasiebeampte van die George-polisiestasie gestuur, maar sy het teen saktyd nog nie reageer nie.
ARTIKEL & FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'