GEORGE NUUS - Die dierewelsynsorganisasie Sentiara waarsku troeteldiereienaars oor 'n kommerwekkende toename in Parvo-gevalle in die George-omgewing, veral onder oningeënte honde.
Volgens Sentiara se Salomé Bruyns, was daar die afgelope paar dae 'n beduidende styging in noodgevalle, met verskeie honde wat ernstig siek aangemeld is.
Parvovirus is 'n hoogsaansteeklike en potensieel dodelike siekte wat hoofsaaklik die spysverteringstelsel aanval.
"Parvo versprei vinnig, en sonder tydige behandeling is die oorlewingsyfer laag," sê Bruyns. "Vroeë optrede red lewens."
Simptome om dop te hou
Honde wat met Parvo besmet is, toon dikwels erge diarree, dikwels met bloed, braking, lusteloosheid, weiering om te eet of drink en koors.
Wat eienaars moet doen
Sentiara doen 'n dringende beroep op honde-eienaars om onmiddellik veeartsenykundige hulp te soek indien enige van bogenoemde simptome voorkom. Honde met vermoedelike Parvo moet geïsoleer word om verdere verspreiding van die virus te voorkom.
Voorkoming is noodsaaklik
Parvo is voorkombaar indien die nodige voorsorg getref word. Eienaars word aangeraai om te verseker dat hul honde volledig ingeënt is, jong hondjies nie aan onbekende honde of openbare areas bloot te stel nie, erwe, hokke en kosbakke gereeld te ontsmet en om hande en skoene te was ná kontak met ander honde.
Sentiara beklemtoon dat Parvo nie net 'n siekte nie, maar 'n krisis is wat samewerking en verantwoordelike optrede vereis.
"Met groter bewustheid en samewerking kan lewens gered word," sê Bruyns.
Enigiemand wat 'n siek hond opmerk of hulp benodig, word versoek om onmiddellik hulp te soek deur die dier na 'n veearts of die PDSA te neem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’