GEORGE NUUS - 'n Voormalige raadslid van George-munisipaliteit, Henry Jones, het vandag op 11 aanklagte van bedrog en 'n klag van diefstal verskyn. Jones pleit onskuldig op al die aanklagte.
Jones was voorheen 'n portfeuljeraadslid vir behuising.
Die aanklagte spruit voort uit beweerde behuisingsbedrog wat in sy termyn as raadslid plaasgevind het, waarby hy betrek is.
By vyf van die 11 aanklagte van bedrog is diefstal as 'n alternatiewe klag gelys. Dit beteken indien die staat nie genoegsaam kan bewys dat bedrog plaasgevind het nie, Jones steeds vir diefstal aangekla kan word.
Die saak word more in die George-streekshof voortgesit. Jones se regsverteenwoordiger, Kerneels Meyer van Johan Weideman Prokureurs in George, het die hof ingelig dat Jones ernstige mediese probleme het, waaronder kolonkanker. Jones moet ook moreoggend sy dokter besoek oor n hartkwaal. Drie staatsgetuies gaan na verwagting more in die saak getuig. Die landdros wat die saak aanhoor is Praglathan Govender en adv. Xolile Jonas is die staatsaanklaer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'