Gallery
GEORGE NUUS - Die 17 ou karre van die Nuts and Bolts Rally wat op 9 Oktober in George weggespring het, maak hul reis van meer as 6 450 km komende Saterdag, 26 Oktober, in Agulhas klaar.
Dit wil nogal gedoen wees met 'n konvooi van motors wat almal 40 jaar en ouer is. Tot dusver was net drie dae van die reis sonder meganiese probleme.
Lynette Neethling, wat saam met haar man Herman in hul bussie, Bussie-nes ry, het gesê wanneer een van die karre breek, word dit iewers langs die pad herstel met mede-Nutters se hulp, raad en bystand.
Die groep is al feitlik reg rondom die land - van George af met die Ooskus langs, op met die kus van KwaZulu-Natal, deur Sodwana en toe noordwaarts deur die Kruger Wildtuin om daarna al langs die noordelike grens met Zimbabwe, Botswana en Namibië te ry.
Hulle was in die Kgalagadi-oorgrenspark en het Dinsdag by die Kalahari Info Centre 3 km van die Namibiese grens oornag. Woensdag (gister) was hulle op pad na die Augrabies-watervalle en dan mik hulle vir Port Nolloth en Clanwilliam op pad na Agulhas.
'n Blaaskans vir die reisigers naby die Kgalagadi-oorgrenspark.
Fondse
Tot op hede is R280 000 ingesamel. "Daar is ook nog 'n paar beloftes wat moet inkom. Daar word ook items opgeveil soos ons ry. Een skildery wat ons eie Alicia Booyens help maak het, is nou opgeveil vir R11 000. Bieërs is nog besig met 'n bottel witblits wat nou al by R5 000 staan," het Lynette gesê.
Alicia is as kleuter met serebrale verlamming gediagnoseer, maar sy lei nou 'n vol lewe. Sy reis saam om bewusmaking te skep rondom serebrale verlamming.
Die vier organisasies wat by die fondse gaan baat, is Choc (Children Living with Cancer), UCPA (United Cerebral Palsy Association), Smile Foundation (vir kinders met gesigsabnormaliteite) en Goldilocks and the Bear Foundation (wat op geestesgesondheid fokus). Fondse word deur Nuts and Bolts se nie-winsgewende organisasie, More Than Adventure, ingesamel. Hulle mikpunt is om R250 000 vir elke organisasie te skenk.
Mense wat wil skenk, kan die groep se webwerf besoek by www.nutsandboltsrally.co.za. Besoek hul Faceboo-blad om hul reis te volg.
Besoek www.georgeherald.com vir 'n artikel deur Lynette Neethling oor hulle wedervaringe en 'n dag-tot-dag lys van probleme wat met die karre ondervind is.
FOTOGALERY: Rondom die land in ou motors vir 'n goeie doel
Sover was net drie dae van die reis vry van meganiese probleme.
Reisigers vir 'n goeie doel.
Verwante artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’