Stanton Cornelius (26) van Crowleystraat, Leroy Magotha (22) en Dillan Peters (22) van Vloedstraat is dood nadat Stanton in Langenhovenstraat naby die George-gholfbaan beheer oor sy swart Toyota Tazz verloor het. Die motor het die pad verlaat en 'n boomstomp getref waarna dit weens die impak deur die lug getrek en bo-oor die heining van die gholfbaan is.
Die motor het verskeie kere gerol en die oorledenes, asook Stanton se jonger broer, Shardonay Appels (16) en nog 'n vriend, Brandon Bruiners (21) is almal uit die motor geslinger. Stanton en Leroy is vermoedelik op slag dood en Dillan het kort na sy aankoms by die hospitaal gesterf.
Nadia Ferreira, woordvoerder vir die departement van gesondheid in Eden, het Dinsdag gesê Shardonay is in een van hul gewone sale en is op die oomblik stabiel. Hy het frakture opgedoen en het ook Saterdag 'n noodoperasie ondergaan. Bruiners het ligte beserings opgedoen en is Saterdag uit die hospitaal ontslaan.
Die vriende was onderweg huis toe, toe die ongeluk omstreeks 03:15 plaasvind. Hulle was Vrydagaand eers by die George Indoor Go Karting in Blanco en het daarna by Leroy se broer, Guerchwin en nog vriende aangesluit waar Guerchwin sy verjaarsdag by 'n plaaslike nagklub in die middedorp gevier het.
Guerchwin, wat Saterdag 26 geword het, het Dinsdag gesê hulle is almal baie geskok en stukkend oor die tragedie. "Ons was hegte vriende. Ons het saam grootgeword." Hy en nog vriende het in 'n tweede motor agter die Tazz gery en het sekondes na die ongeluk op die toneel aangekom.
Familielede, vriende en verskeie ander inwoners van Riverlea het Sondagmiddag aan 'n emosionele kranslegging by die toneel deelgeneem. Wyksraadslid Melvin Naik het die optog en diens by die kranslegging waargeneem.
Intussen stroom boodskappe van medelye vir die families en vriende van die oorledenes in op die George Herald se Facebook-blad waar die jong mans beskryf word as lewenslustige, vriendelike en spontane jongmense wat voluit geleef het.
'n Massabegrafnis word Saterdag gehou om 12:00 in die VGK Blanco. Dienste by elkeen van die oorledenes se wonings sal om 11:00 plaasvind.
Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
Twee mans beseer na motor rol
In 'n afsonderlike ongeluk, ook Saterdagoggend, is twee mans lig beseer nadat hul silwer Mazda die pad in PW Botha Boulevard verlaat en teen die afgrond gerol het. Die bestuurder, Shogan Govender en sy passasier, Lucien Arendse kon daarin slaag om uit die wrak te klim om hulp te soek. Volgens die polisie het die ongeluk ongeveer 04:00 plaasgevind.
In nog 'n ongeluk Saterdagoggend is vier mense van 'n groep van 16 passasiers agterop ’n bakkie dood op die pad tussen Beaufort-Wes en Aberdeen.
Daar was ook twee afsonderlike ongelukke op die ou-lughawepad en Georgeweg, Blanco, Saterdagaand waar die bestuurders beheer oor hul voertuie verloor en die pad verlaat het. Niemand is in die ongelukke ernstig beseer nie.
• Die provinsiale minister van vervoer, Donald Grant het vandeesweek gesê dat 25 mense die afgelope "betaaldagnaweek" op die provinsie se paaie gesterf het en by motoriste gepleit om versigtiger te wees. In 'n persverklaring wat Grant verlede Vrydag uitgereik het, sê hy dat padsterftes in die provinsie op betaaldag-naweke met amper 24% toeneem in vergeleke met ander naweke.
* A mass burial will take place on Saturday at 12:00 at the Uniting Reformed Church in Blanco for the three young men from Riverlea, Blanco, who died in an accident in Langenhoven Street last Saturday morning at 03:15. The deceased are Stanton Cornelius (26), Leroy Magotha (22) and Dillan Peters (22). Stanton's younger brother, Shardonay Appels (16), sustained serious injuries and is still in hospital while another friend, Brandon Bruiners (21), sustained minor injuries. The friends were on their way home after celebrating the birthday of Leroy's older brother at a nightclub in town, when Stanton lost control of his black Toyota Tazz. The car left the road and hit a tree stump. The impact caused the car to flip into the air clearing the George Golf Course fence, after which it rolled several times onto a green.

Donder wolke hang Sondagmiddag oor familielede, vriende en inwoners van die oorledenes tydens die kranslegging. Aan die woord (links voor) is Raadslid Melvin Naik wat die optog na die toneel gelei het. Die Uitvoerende Burgemeester van George, Charles Standers het ook sy medelye met die familie van die jong mans uitgespreek.

Stanton Cornelius (26) word oorleef deur sy ouers, broer en 'n dogtertjie.

Dillan Peters (22) laat sy ma en sy twee broers agter.

Leroy Magotha (22) laat sy ouers, broer, suster en 'n dogtertjie agter.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'