GEORGE NUUS - Die 73-jarige huiseienaar van 'n woning in Groeneweidepark kan dit nie bekostig om in haar eie huis te woon nie, want sy kan nie die munisipale rekening betaal en kos koop nie.
"Daarom verhuur sy die huis en woon self in 'n kleiner plek," sê haar dogter. "My ma het geen ander inkomste as die huurgeld wat sy kry met haar huis se verhuring nie.
"Dit dek haar huur vir 'n woonstel en lewenskostes."
Die probleem is egter dat die huurders sedert die begin van die jaar nie meer gereeld huur betaal nie.
"En sedert Junie betaal hulle absoluut niks. My ma stres haar dood."
Die dogter het George Herald met hulle penarie genader nadat sy twee soortgelyke artikels in Julie in die koerant gelees het, net van die ander kant van die draad (17 Julie, Gesin in sak en as na uitsetting en 24 Julie, Geen hofbevel, wel polisie).
In die artikels is die een huisgesin blykbaar onwettig uitgesit, en die ander gesin gedreig met uitsetting. Dit het glo sonder hofbevele gebeur.
"Ons het ons einde laaste na 'n prokureur gewend met die hoop dat die huurders sal trek," vertel die dogter. "Hulle het glad nie geskrik nie, en sê vir my reguit dat die wet aan hulle kant is."
"Ek ontvang vroeër die jaar 'n deel van my ma se huurgeld met die boodskap: 'Nou kan jou ma darem vir haar 'n bordjie pap koop'. Ons is radeloos. Ons het nie geld vir 'n uitsettingsbevel van die hof nie - dit kos duisende rande.
"My ma se vrees is dat sy haar woonstel gaan verloor.
"Ons verdien nie genoeg om haar te onderhou nie."
Die dogter en haar ma het die verhuringstribunaal in George per afspraak besoek. Volgens die dogter het die huurder nie opgedaag nie. "Hulle het ons ook na 'n prokureur verwys."
Intussen huur die huurder glo 'n besigheidsperseel in Yorkstraat, bokant 'n bekende winkel.
Blykbaar betaal sy wel daar die maandelikse huurgeld. "Jy weet, sy het verlede jaar met vakansie gegaan, en toe sy terugkom het sy ook eenvoudig gesê sy het nie geld vir huur nie. 'n Mens is so magteloos. Ek het toe al geweet hier kom probleme."
Die huurder het glo rondom die Covid-pandemie die huis begin huur.
Nuwe 'huurders'
Volgens wet kan 'n verhuurder nie huurders eenvoudig met meubels en al uit die huis boender nie, al is hulle hoe raadop. 'n Hofbevel kos geld en dit neem ook tyd. Bowendien is 'n prokureur nie goedkoop nie.
Moet ook nie dink jy kan die slotte verander nie - dit is ook teen die wet.
Daar bo in die noorde en in die Oos-Kaap is daar egter 'n ander praktyk wat baie gewild is.
Verhuurders betaal mense om 'n spesiale diens te lewer.
Hulle trek in by die halsstarrige plakkers en leef eenvoudig in hul spasie. Dit is natuurlik nie wettig nie, maar die hoop is dat die plakkers so ongemaklik lewe, dat hulle maar ten einde laaste die aftog blaas en trek - vanself.
'n Wettige alternatief om ongewenste huurders te laat ontruim is om kontant vir die ontruiming aan te bied. Foto: Pexels
Hulle wil nie trek nie, nou wat nou?
Kom ons kyk bietjie wat sê die wet. Adelle Myburgh van Homeseller, 'n plaaslike eiendomsagent, gee meer duidelikheid oor wat 'n verhuurder mag en nie mag doen nie:
"In Suid-Afrika beskerm die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting (PIE-wet), ook bekend as die Plakkerswet, huurders teen uitsetting sonder 'n hofbevel selfs as hulle nie huur betaal nie.
"Hierdie wet bevoordeel niebetalende huurders deur te vereis dat verhuurders 'n formele hofproses volg voordat hulle 'n huurder kan uitsit. Die hof moet oorweeg of die uitsetting regverdig en billik is, met aandag aan faktore soos hoe lank die huurder al in die eiendom is, of daar kinders, bejaardes of gestremdes betrokke is en of die huurder andersins sonder skuiling gaan wees.
"Verhuurders moet die wettige uitsettings-proses volg, wat gewoonlik 8 tot 16 weke neem, maar in meer ingewikkelde gevalle kan dit tot 12 maande of langer duur, veral as die huurder teenstribbel of die howe besig is.
"Die proses sluit in: skriftelike kansellasie van die huurkontrak, 'n kennisgewing om te ontruim, hofstukke indien, minstens 14 dae kennisgewing gee voor die verhoor, en uiteindelik die balju wat die uitsetting uitvoer na 'n hofbevel."
Trek Ferreira!
Verhuurders raak soms raadop en wend hulle tot onwettige maniere om van huurders ontslae te raak. Myburgh stel dit duidelik dat wanoptredes strafregtelik vervolg kan word:
"Onwettige uitsettings soos slotte verander, krag/water afsny, intimidasie of nuwe huurders intrek terwyl die niebetalende huurder nog in die eiendom is, is strafbaar en kan lei tot boetes of gevangenisstraf.
"Om die risiko van niebetalende huurders te beperk, moet verhuurders deeglike keuring doen: kredietondersoek (TPN, Experian), inkomste verifieer (ten minste 3 keer die huurbedrag), werkgewer kontak, vorige verhuurders navraag doen, en 'n duidelike huurkontrak gebruik.
"Baie verhuurders gebruik ook vinniger, wettige alternatiewe soos 'Kontant vir Sleutels' (geld word aangebied vir vrywillige ontruiming), onderhandel 'n ooreenkoms om te ontruim, stuur formele aanmanings-briewe via prokureurs, of swartlys die huurder op kredietburo met behoorlike kennisgewing.
"Dit is baie belangrik om die diens van 'n gevestigde, betroubare en ervare eiendomsagent of bestuursmaatskappy te gebruik. Hulle ken die wet, sorg vir korrekte dokumentasie, doen behoorlike keuring en kan effektief met huurders onderhandel om lang hofsake te vermy."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’