Update
GEORGE NUUS - Die moordverdagte, Grant Robertson (35), wat daarvan aangekla word dat hy sy meisie, Rencia Jafta (37) van Parkdene, in 2019 vermoor het, het Maandag 10 Januarie met sy getuienis in die George-hooggeregshof voortgegaan ná die saak in November verlede jaar uitgestel is.
Hy het by sy weergawe gehou dat Jafta se dood nie met opset was nie.
Omstreeks 14:00 Maandagmiddag is Robertson in die getuiebank deur staatsadvokaat Evadné Kortjé gekonfronteer met bewysstukke en foto's van die oorledene, waarna hy baie emosioneel en flou geword het.
Paramedici is ontbied en ná 'n mediese ondersoek is hy gesond verklaar. Kruisondervraging is Dinsdag voltooi waarna die staat en die verdediging hul sake gesluit het. Geen verder getuienis is geroep nie.
LEES MEER: Kêrel se verhoor begin in Hooggeregshof
Volgens Robertson het hulle albei die aand baie gedrink en saamgeslaap. Sy het later die aand van die bed afgeval, waar sy volgens hom die kopwond opgedoen het.
Hy het in daardie stadium nie besef sy is dood nie en aangeneem dat sy aan haar sykant langs die bed aan die slaap geraak het. Toe hy later agterkom dat Jafta dood is, het hy paniekbevange geraak en die huis verlaat om tik te gebruik.
Hy het erken dat hy in die verlede sy wettige vrou en voormalige meisie aangerand het, maar dat dit nie met opset was nie en slegs wanneer hy onder die invloed van dwelms was of die vroue hom frustreer het.
Die saak gaan môreoggend, Vrydag 14 Januarie, voort wanneer slotbetoeë gelewer word. Robertson is op 14 Julie 2019 in hegtenis geneem ná Jafta se liggaam onder 'n bed in haar opslaanhuis in Bisonsingel gevind is. Sy het 'n kopwond gehad en die vermoede bestaan dat sy met 'n stomp voorwerp aangerand is.
LEES MEER: Verhoor wink vir kêrel na meisie se moord
Robertson het op 14 Julie daardie jaar vir sy borgtogaansoek verskyn, maar het gekies om nie 'n aansoek te bring nie.
Louise Luterek van Mosselbaai verteenwoordig vir Robertson; adv. Evadné Kortjé is vir die staat; en die saak dien voor regter Deidre Kusevitsky.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'