Gallery Video
GEORGE NUUS - Dinge is aan die beweeg by Erf 325 in Pacaltsdorp, waar Simply Do Construction grond verskuif om 'n area voor te berei vir 30 huise aan militêre veterane. Die gewoel kan vanaf Beachweg gesien word en maak 'n mens opgewonde vir wat binne die volgende 30 weke gaan gebeur.
Militêre veterane het Maandag 10 Maart gaan inloer by die perseel. George Herald was kort op hul hakke, om ook te sien wat alles hier plaasvind.
"Ons gemoed is op 'n baie goeie plek, dit is regtig iets om na uit te sien," sê Cornelius Kombela, woordvoerder van die militêre veterane in George, en 'n begunstigde van die projek.
"Ons gesprekke met Simply Do het goed verloop. Ons behoort teen die lente in ons nuwe huise te wees."
Nuwe bouwerk
Intussen word daar voorbereidings gedoen om 57 huise aan die voet van Reigerpark (fase C) te bou, waarvan 32 toeganklik sal wees vir rolstoelgebruikers.
FOTOGALERY - Bouwerk by Erf 325: huise vir militêre veterane en ander projekte volstoom aan die gang
Hierdie val in die kategorie 'Breaking New Ground', voorheen bekend as HOP-huise, wat volledig deur die staat gesubsidieer word. Nog 124 van hierdie huise gaan deur Simply Do Construction in fase B1 gebou word.
VIDEO - Behuisingsprojek Erf 325, Pacaltsdorp: Hoe lyk dinge nou?
Charl Louw, projekleier van die provinsiale departement van infrastruktuur, is veral opgewonde oor 'n kwekery en boorgat wat deel vorm van hierdie projek deur Simply Do.
"Die bome gaan in die verskillende fases geplant word en die boorgat gaan die water verskaf vir die kwekery," vertel Louw.
"Ons praat hier van tuinaanleg wat gaan plaasvind. Dit gaan pragtig lyk!"
Projekleier van die provinsiale departement van infrastruktuur, Charl Louw.
Spoed optel
'n Vorige bouprojek deur die boukon-trakteur Enigma (in fase B3) sal binnekort weer voortgaan nadat drie nuwe kontrakteurs aangestel gaan word om die projek te voltooi. Hier staan tans 217 huise leeg.
Heelwat werk is nog nodig aan die topstrukture, alvorens die huise aan hul eienaars oorhandig sal word. Minstens is die siviele dienste onlangs deur George-munisipaliteit afgeteken.
Die bouwerk sal volgens beplanning in April begin, en sowat 18 weke duur.
Kant en klaar
In fase A is 136 huise reeds verkoop en oorhandig aan eerste huiseienaars (First Home Finance), terwyl 'n kontrakteur aangestel is om die oorblywende 11 huise voor te berei vir hul nuwe eienaars.
Konstruksie begin in Maart en sal 12 weke duur.
'n Vorige bouprojek deur die boukontrakteur Enigma (in fase B3) sal weer spoed optel nadat drie nuwe kontrakteurs binnekort aangestel word om die projek te voltooi. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’