Update
GEORGE NUUS - Ofskoon die nuwe Mediclinic George van R1 miljard nou in volle bedryf is, word die moontlikheid reeds ernstig ondersoek om dit uit te brei.
Celesté Louw, die hospitaal-bestuurder, het by navraag bevestig dat daar reeds na moontlike uitbreidings gekyk word.
Dr. Ronnie van der Merwe, uitvoerende hoof van die Mediclinic-groep, het tydens die onlangse amptelike opening aangedui dat die Wes-Kaapse departement van gesondheid binnekort genader kan word sodat voorsiening vir meer beddens gemaak kan word.
Die bedryfsvoorwaardes en grootte van so 'n hospitaal word vervat in 'n lisensie wat deur die departement uitgereik word.
Louw het tydens 'n onderhoud aan George Herald gesê die oorspronklike lisensie-aansoek is in 2019 finaal goedgekeur. Dit maak voorsiening vir die huidige 222 beddens. George het intussen gegroei.
In dié stadium is die grootste nood vir beddens in die intensie-wesorgeenheid. Die hospitaal is gereed vir groei. Aangrensend aan die nuwe terrein is grond waar nog 'n vleuel as deel van 'n nuwe fase gebou kan word. Vir nou word gekyk hoe die bestaande geriewe uitgebrei kan word.
Om voorsiening te maak vir die groter behoefte word sewe bykomende spreekkamers tans vir spesialiste op 'n aangrensende terrein ingerig.
Volgens haar is reeds vroeër voorsien dat daar 'n tekort vir kritieke sorg gaan wees. Noudat die nuwe hospitaal in bedryf is, word dit in die praktyk ervaar.
Die nuwe hospitaal amalgameer die ou Mediclinic George asook die Geneva-kliniek. By al die geriewe is in die verlede gesamentlik op weeksdae tussen 50 en 60 operasies daagliks gedoen. Nou is dit 70 tot 80 per dag. Die nuwe hospitaal is 15 tot 20% besiger as by al die ou geriewe gesamentlik.
Wat van die ou hospitaalgeriewe?
Louw het gesê Mediclinic sal wil sien dat verantwoordelik verkoop word. "Ons beskou dit as belangrik dat die middedorp van George behoue bly.
"Die eienaars sal nie wil hê dat dit lank leegstaan nie. Op die oomblik word die neurokliniek langs die ou geriewe steeds benut."
Previous articles:
Celesté Louw voor die nuwe die hospitaal. Foto’s: Eugene Gunning‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’