GEORGE NUUS - Die Conville-polisie het Dinsdag een persoon (26) aangekeer na Saterdagnag se wrede panga-aanval waarin 'n man van Lawaaikamp doodgekap is.
Luthando Jantjies (27) is naby Cheap Foods met ernstige beserings aan sy gesig en kop gevind.
Met die polisie se aankoms op die toneel kort na middernag, was die ambulansdiens reeds besig om na Jantjies om te sien. Hy is met sy aankoms by die hospitaal oorlede.
Voorlopige inligting wat George Herald ontvang het dui daarop dat Jantjies en twee manlike familielede vroeër die aand in 'n stryery by 'n taverne in July Marikenistraat betrokke was. 'n Geveg het tydens die stryery ontstaan en daar was glo 'n oor-en-weer stekery tussen Jantjies en die ander twee mans.
Jantjies, wat na bewering na die voorval in die taverne weggehardloop het, is deur 'n groep mans (vermoedelik vriende van een van die twee beseerdes) agternagesit en hy is later naby Cheap Foods gevind.
Dit is onduidelik wie die nooddienste en die polisie gekontak het. Die ander twee mans is tans in die hospitaal. Een van hulle word in die hoësorg-eenheid behandel en is kritiek en die ander een sterk aan in 'n gewone saal en is buite gevaar.
Die motief vir die aanvalle is onbekend. Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval en die arrestasie van een verdagte bevestig. Hy het gesê nog arrestasies, in verband met Jantjies se moord, kan volg soos hul ondersoek vorder.
Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, sers. JW Mett, te skakel by 044 803 3303.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'