GEORGE NUUS - Nóg ’n perd is op die N2 naby Pacaltsdorp doodgery.
Die voorval het Sondagoggend, 4 Mei, omstreeks 01:00 naby Pacaltsdorp plaasgevind, en Landile Mzimkhulu (42), die bestuurder van die Chevrolet-bakkie, is uiters gelukkig om lewendig daarvan af te kom.
Volgens Mzimkhulu was hy op pad huis toe van Thembalethu toe die voorval plaasgevind het.
“Ek het twee perde, ’n merrie en ’n vul, langs die pad sien hardloop met twee seuns wat hulle gejaag het. Toe hulle voor my oor die pad hardloop, kon ek nie betyds stop nie,” vertel hy.
“Ek dink ek het beide getref. Gelukkig was daar in daardie stadium nie ander voertuie naby nie.”
Nooddienste was vinnig op die toneel. Mzimkhulu het ligte beserings aan sy arm en been opgedoen, maar is nie hospitaal toe geneem nie.
“Ek is net dankbaar om nog lewendig te wees. As ek na die bakkie kyk, is dit duidelik heeltemal geskryf.”
Om sout op sy wonde te smeer het daar kort ná die ongeluk, voor die nooddienste op die toneel was, twee seuns glo na sy voertuig gekom en vir hom geld gevra.
“Hulle het R100 gevra, maar toe hulle die blou ligte sien aankom, het hulle gevlug. Ek dink hulle wou my beroof.”
Een van vele
Ongelukkig is dié voorval net nóg een van vele soortgelyke voorvalle wat oor die afgelope paar jaar op dié spesifieke deel van die snelweg tussen Pacaltsdorp en Thembalethu, plaasgevind het.
“Ons inspekteur het oor die naweek talle oproepe oor perde ontvang en het verskeie tonele bygewoon om die situasie te monitor totdat wetstoepassing opgedaag het,” sê die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging se bestuurder, Sue Noakes.
“Ons moes ook die naweek ’n oorweldigende aantal noodgevalle en wreedheidsklagtes hanteer. Enigiets van ’n verlate perd en verskeie siek en beseerde diere, tot gevalle waar diere deur voertuie getref is. Ons het alles binne ons vermoë gedoen om bystand te verleen en die veiligheid van beide die diere en die gemeenskap te verseker.”
Nie PRC se perde nie
President van die Pacaltsdorp-perdrygemeenskap / Pacaltsdorp Riding Community (PRC), Clayton Jacobs, het bevestig dat dit nie een van hulle lede se perde is wat in die botsing betrokke was nie. Hulle weet ook nie wie die eienaar is nie.
In tussen het PRC ’n huurkontrak met die munisipaliteit gesluit.
“Ons het nou ’n kontrak vir drie jaar met die munisipaliteit vir grond vir ons perde. Die volgende doelwit is om dit ten volle te omhein en netjiese kampe en skuilplek op te rig. Ons wil dit veilig maak vir die perde en die kinders uit die gemeenskap wat hier kom kuier. Dit gaan tyd vat, maar ons kom daar,” sê Jacobs.
Noakes het haar dank teenoor die munisipaliteit uitgespreek rakende die grond vir PRC, maar sê dat dit op sigself nie die voortdurende uitdaging van groot diere op die snelweg gaan oplos nie. In hierdie stadium het niemand regtig ’n antwoord nie.
Jacobs is egter van mening dat dit wel ’n groot impak sal maak, hoewel hy besef dat nie almal by PRC gaan aansluit nie en daar nog baie perde op straat gaan wees.
Weens finansies wat ’n groot rol speel, is PRC ook nog op soek na bruikbare tweedehandse bourommel soos sinkplate, pale en draad om hul perseel te herstel en op te knap.
Enigiemand wat wil bydrae kan Jacobs by 082 302 7563 skakel. Enigiets sal waardeer word.
“Ons verwag niks verniet nie. Ons is bereid om te betaal.”
Hy sê ook almal is welkom om by PRC aan te sluit, maar dit gaan gepaard met baie reëls en regulasies. “Ons wil ons diere veilig hou. Indien iemand by ons wil aansluit kan hulle ons kontak.”
Click here to read related articles.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’