Update
GEORGE NUUS - Die tienjarige Lelitha Jantjies van Pacaltsdorp, wat in September lewensveranderende chirurgie ondergaan het, is vandeesweek met nóg goeie nuus verras. Lelitha is Woensdag 8 November, saam met haar jonger boetie, Luciano, weer terug skool toe.
Met hul pragtige blou skooltruie is die twee kinders deur die gr. 2's en gr. 4's van Pacaltsdorp Primêr ingewag.
Ofskoon die aanvanklike plan was dat hulle eers volgende jaar sou begin, het die skoolhoof, Aldrin Manuel, besluit hulle moet sommer nou al inval. Die kinders se vreugde ken geen perke nie, en dit was net glimlaggies toe hulle gister kon begin, nadat hulle vir ses maande buite die skoolsisteem was.
Hartseer tye
Lelitha is op 20 Augustus verlede jaar deur die gesin se Amerikaanse veghond (pit bull) aangeval, waartydens haar gesig verskeur is. Met die hulp van dr. Ansua Steyn en haar organisasie, die Dr. Ansua-stigting, het Lelitha 'n suksesvolle drie ure operasie in die Advanced Health-daghospitaal in Knysna ondergaan om diep littekens aan haar gesig met plastiese chirurgie te verbeter.
Die voorval het in Friemersheim plaasgevind, waar die gesin op daardie stadium gebly het. Hulle is oorspronklik van Pacaltsdorp.
Lelitha se ma, Ahisa Louw, het na die voorval met haar twee kinders teruggetrek na Pacaltsdorp. Weens omstandighede kon die kinders vir ses maande nie skool gaan nie.
"Ons kon nie vir haar by haar ou skool plek kry nie, die kinders is toe na 'n skool wat heelwat verder is, wat dit moeilik gemaak het, en Lelitha moes deurloop onder negatiewe kommentaar van klasmaats. Boonop was dit moeilik om die oop wond langs haar mond skoon te hou," het Ahisa destyds verduidelik.
Na afloop van die operasie deur die Dr. Ansua-stigting, ontvang Lelitha gereeld laserbehandelings by Nu Skinnovation met die doel om die littekens en verkleuring aan te spreek. Die herstel van Lelitha se selfvertroue is vir dr. Ansua Steyn net so belangrik soos die herstel van haar gesig.
'n Nuwe begin: skoolhoof Aldrin Manuel, Ahisa Louw en haar twee spruite, Luciano en Lelitha, Shireen Noble (administratiewe klerk) en dr. Ansua Steyn.
Goeie wending
'n Onlangse gesprek tussen dr. Steyn en een van haar pasiënte, Shireen Noble, het gesorg vir 'n baie positiewe wending in die verhaal. As 'n administratiewe klerk by Pacaltsdorp Primêr kon Noble met 'n enkele oproep na haar hoof, Aldrin Manuel, die groen lig kry vir 'n plekkie vir beide Lelitha en Luciano in hul skool.
"Hulle sal geassesseer word en Lelitha sal eksamen skryf. Ons wil dit graag 'n kans gee, want dalk is dit nie vir hulle nodig om 'n jaar te herhaal nie," het Noble gesê.
Sy het deurentyd Lelitha se storie in die media gevolg. "Ek wou dit nog opvolg. Die gesprek met dr. Steyn het op die regte tyd gekom," het Noble gesê. "Ons maak plek vir kinders, veral as hulle van 'n ander plek kom. Ek het onmiddellik met my hoof geskakel, en hy het gesê: 'enige tyd.' Ons kon die kinders se dokumentasie en rapporte van die vorige skool bekom, en die hoof was so nice, hy het gesê hulle moet sommer dadelik inval."
Lelitha en haar boetie was oorstelp van vreugde toe hulle die nuus ontvang.
"Daai tweetjies van my is baie excited. Ons het nou die dag 'n gesprek gehad, toe sê hulle, hulle wil sommer nou dadelik gaan! Hulle is baie opgewonde, en om eerlik te wees, ons is baie dankbaar," het hul ma, Ahisa Louw, gesê. "Dit was 'n tawwe ding om hulle by die huis te hou, maar dit was beter as om my kinders elke dag hartseer te sien."
Die kinders het oulike stemboodskappe vir George Herald gestuur. Lelitha sien daarna uit om haar werk op te vang en hulle kon nie wag om nuwe maats te ontmoet nie.
Luciano en Lelitha lyk te fraai in hulle blou skooltruie.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’