GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua loop breëbors rond, nadat vier leerlinge van die skool gewys het hulle is meesters van die geskrewe woord. Hulle het gedigte en essays geskryf en besonders presteer.
Craig Bredenkamp (17) 'n gr.12-leerling en Annika Stenvert (17) ook in gr.12, se gedigte is gepubliseer in Poort.
Die Poort-Skryfkompetisie is 'n projek van die Suid-Afrikaanse Akademie vir wetenskap en kuns, wat ten doel het om skeppende skryftalent in Afrikaans by hoërskoolleerders aan te moedig. Voorts om sodanige kreatiwiteit uiteindelik te waardeer en aan 'n groter gehoor bloot te stel. Die kompetisie vind al vanaf 1971 plaas. Die Poort-publikasie verskyn jaarliks met gekeurde werk in die genres prosa en poësie.
Pelser Maloney (18) en Alouise Campher (17) beide in gr.12, het essays geskryf in 'n kompetisie wat deur Nedbank aangebied is oor sosiale ekonomiese transformasie. 'n Groep van 26 is daarna na aanleiding van die essays gekies. Hulle is na Kaapstad genooi om meer te vertel van hul essays.
Uiteindelik het hulle onder die topvyftien geëindig en het daarmee drie jaar se gratis studie in 'n sakerigting by 'n universiteit gewen. Hulle kan self besluit by watter universiteit hulle wil studeer.
'n Verdere eer het Campher te beurt geval. Sy het algeheel tweede in die kompetisie geëindig.
Bredenkamp het vertel dat hy 'n gedig Genoeg ingeskryf het. Dit is baie kort en is geïnspireer deur die liefde. Aanvanklik het hy 'n kortverhaal geskryf, maar later besluit om die gedig in te skryf.
Sy skryfwerk is 'n stokperdjie. Hy is baie lief vir Afrikaans. Wat hom betref is die toekoms van Afrikaans in die hande van die sprekers van die taal.
Stenvert het vertel dat sy twee jaar gelede 'n gedig ingeskryf het wat gepubliseer is. Verlede jaar het sy nie ingeskryf nie. Vanjaar het sy drie gedigte ingeskryf en een gedig is gepubliseer. Die gedig se naam is My geslote kring-ketting. Volgens haar is dit 'n baie persoonlike gedig. Die gedig gaan oor haar pa.
Sy dig want sy is baie lief vir Afrikaans. Dig is vir haar 'n uitlaatklep sonder om met iemand te praat. Haar pa, Gerrit, dig ook en van sy gedigte is al gepubliseer.
Heimne van Rooyen (ekonomie), Alouise Campher(17), Gerna Joubert (ekonomie) en Pelser Maloney (18).
Maloney het gesê in sy essay het hy aangevoer dat ekonomiese transformasie moet plaasvind. Daar is ongelykhede in die land en die redes daarvoor is die swak onderwysstelsel. Hy glo die ongelykhede kan opgeklaar word deur 'n volhoubare onderwysstelsel te vestig. Hy is van voorneme om B.Rek te gaan studeer, maar nog nie seker waar nie.
Campher het in haar essay ongelykhede uitgelig. Volgens haar is daar nie eenvoudige en enkeloplossings nie. Sy glo daar moet in die oplossings gefokus word op armoede eerder as ras.
Volgens haar was dit moeilik om die inligting te bekom. Dit was 'n politieke onderwerp en sy moes dit versigtig skryf.
Sy is voorneme om aktuariële wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer. Sy is baie lief vir wiskunde.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'