GEORGE NUUS - Oewerstraat in Denneoord se beroemde Kersliggies is Saterdagaand, 3 Desember, aangeskakel en dit sal tot 31 Desember besigtig kan word.
Die liggies trek landwyd aandag en mense kom gewoonlik van heinde en ver om dit te besigtig.
Tydens Saterdagaand se geleentheid het inwoners 'n heerlike straatbraai gehou en saam gekuier.
Die liggies is nie in Desember 2020 aangeskakel nie, omdat inwoners van die straat tydens 'n vergadering eenparig besluit het om weens die Covid-19-situasie nie liggies aan te skakel nie.
Verlede jaar is dit weer aangeskakel en opgedra aan een van die straat se geliefde jong inwoners, Jana Human. Jana het leukemie.
'n Woordvoerder van die inwoners het Maandag gesê die liggies sal saans van 20:00 aangeskakel word en tot min of meer 22:30 aanbly. Daar is van die inwoners wat sonkrag tot hul beskikking het en die liggies saans sou kon laat brand al is daar beurtkrag.
Die inwoners het egter eenparig besluit as daar die aand beurtkrag is, sal die liggies nie aangeskakel word nie. Mense moet dus vooraf vasstel wat is die beurtkragskedule voordat hulle daarheen ry.
Hy het gesê mense is welkom om te kom kyk na die liggies. "Ons is trots op ons liggies."
Hy het aanbeveel dat mense in nabygeleë strate parkeer en dan deur Oewerstraat stap. Dit is om verkeersopeenhopings in Oewerstraat te verhoed.
Volgens die woordvoerder neem minstens 15 huise vanjaar aan die geleentheid deel.
Soos die gebruik is sal die liggies die laaste keer op 31 Desember gesien kan word en sal dan op 1 Januarie afgehaal word.
Oewerstraat se liggies Saterdagaand.
Waar kom Oewerstraat se liggies vandaan?
Oewerstraat aan die voet van die Outeniquaberge is gewoonlik dié tyd van die jaar, een van die besigste strate in George. Elke aand word die straat in 'n sprokieswêreld omskep. Die liggies het 'n tradisie geword en kom 'n lang pad. Niel du Plessis, 'n inwoner, het die eerste keer in 2002 liggies aangebring. Sy pa-hulle het destyds toe hulle na Brenton-on-Sea by Knysna verhuis het, vir hom liggies gegee.
Du Plessis het die liggies by sy huis aangebring. Van die ander mense in die straat het dit raakgesien en ook liggies begin aanbring. Aanvanklik was alles op klein skaal, maar dit het oor die jare uitgebrei.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'