GEORGE NUUS - Die koppe gaan draai wanneer leerders van verskeie skole in die omgewing gaan wys wat hulle met herwinbare materiale kan doen.
Daar word met mening geknip en ontwerp vir 'n modevertoning op 30 Mei by Tyolora Primary, waar leerders 'n geleentheid het om hul unieke uitrustings te dra. Daar is pryse vir die beste ontwerpe op die spel.
Hoërskool George, Hoërskool Parkdene, Heatherlands High, Jonga High en Thembalethu High, Imizamo Yethu High en Tyolora Primary, is die plaaslike skole wat gaan deelneem. Ander skole van die breër omgewing sluit in Hoërskool Môrester, Franken Primêr en Bridgeton Sekondêr.
Hierdie inisiatief, getiteld Desiging a Greener Future, het ten doel om leerders die waarde van kuns en kreatiwiteit te leer, en die geleentheid te gee om dit uit te leef.
Die mikpunt is om alle inwoners te inspireer om onwettige rommelstorting stop te sit, en gemeenskappe te beveilig.
Sasha Lee Kiewiets van Parkdene Sekondêr
"Ons werk aan 'n toekoms waar ons kinders in gesonde gemeenskappe kan leef. Ons glo verandering is moontlik deur kuns," het hooforganiseerder, konst. Mona Slinger van Thembalethu-polisie, gesê.
"Ons wil mans, vroue, jeugdiges en kinders inspireer om op 'n nuwe manier te dink. Die fokus is op herwinning, maar kontroversiële onderwerpe soos verkragting, gesinsgeweld en misdaad in woonbuurte word ook aangespreek."
Slinger word ondersteun met leiding van sers. Michael Opperman.
Sasha Lee Kiewiets van Parkdene Sekondêr
"Ons hoop dat veldtogte soos hierdie die oë van jongmense sal oopmaak en vir hulle 'n visie sal gee vir 'n volhoubare gemeenskap wat op 'n volhoubare manier leef," het Slinger gesê.
"Kinders is die generasie van die toekoms en hulle moet bewus wees van die groot impak wat afval op die omgewing sowel as ons gemeenskap se gesondheid het."
Die rolspelers sluit in Tuinroete-distriks-polisie, Tuinroete-distriksmunisipaliteit, George-munisipaliteit, Legally You, Sahara, Incubeco, Politica, Ewasa, Suff Academy, Boxer, Henque Waste, Polyco, Petco, Shoprite, EDENfm, Heartbeat FM en SABC.
Sasha Lee Kiewiets van Parkdene Sekondêr gee 'n voorsmakie van haar uitrusting.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’