GEORGE NUUS - 'n Besonderse viering van Khoisan-erfenis met dans, poësie, musiek, kos, storie-vertellings en gesprekke oor identiteit en erfenis is op Maandagaand, 23 Februarie, vir die plaaslike Khoisan-gemeenskap in die Sayers-ouditorium van die George-museum aangebied.
Sowat 100 gaste het die Khoisan-kultuuraktivering 2026 bygewoon. Die doel was om bewustheid oor Khoisan-erfenis te versterk en samewerking tussen kulturele rolspelers in George te bevorder.
Beverley McKelly, voorsitter van die ATKV Sommer Net Ons en die program-kurator, het gesê hulle het plaaslike kunstenaars, kulturele praktisyns en die gemeenskap se oudstes byeengebring, "want ware bewaring van erfenis gebeur deur kennisoordrag, deur stories, deur taal, deur bewuste oordrag van identiteit van een generasie na die volgende".
Een van die sprekers, die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Ricardo Mackenzie, het gesê die ongelooflike erfenis wat die Khoi en San aan die mensdom nagelaat het, word nie genoegsaam erken nie.
Mackenzie het onder meer verwys na die Pinnacle Point-erfenisterrein wat beskou word as een van die belangrikste in die wêreld wat dui op die ontstaan van die moderne mens se kultuur.
Jeremy van Wyk, 'n inheemse geskiedeniskenner, het gepraat oor die identiteit van inheemse mense en bevryding van die letsels wat rasseklassifikasie gelaat het. Hy kom uit 'n gesin waar hy een van 10 sibbe is wat onder die apartheidsregering in vier verskillende etniese groepe geklassifiseer is. Hulle is almal egter vandag baie seker van hul identiteit as mense deur wie se are die Khoi-bloed sterk vloei.
Die Vastrappers in aksie."Ons moet nooit vergeet dat ons binne 'n land is wat gebou is op die lewe van inheemse mense, … op die grond van inheemse mense, … waar die identiteit van inheemse mense deur wetgewing eenkant toe geskuif is, … en 'n ander narratief vir Suid-Afrika geskryf is om 'n sekere groep mense in hierdie land se status bo ander te verhef en terselfdertyd die ander een so te verneder dat hy later homself nie meer ken nie," het Van Wyk gesê.
Maar met die koms van demokrasie is 'n beweging, om hul kultuur en identiteit te laat herleef, begin. Sedert 2001, na die eerste oorlegplegende Khoi- en San-konferensie waar besin is oor hul identiteit, is daar deur uitreikaksies gevind dat gemeenskappe reeds baie bewus is van hulle herkoms.
Die vyf groot groepe inheemse mense in die land, die Nama, Koranna, Griekwa, Boesman en Kaapse Khoi, is almal deesdae deel van die Khoisanraad vir verdere besinning oor statutêre erkenning, wat hulle bly ontwyk.
LINKS: Digter Whitney Jansen (links) het 'n voordrag gedoen. By haar is Beverley McKelly (middel) en Ruzanne van Beulen van ATKV Sommer Net Ons.
Die aand se verrigtinge het ook 'n helingsritueel vir gaste ingesluit, energieke vertonings deur die Vastrappers-rieldansgroep van Prins Albert, poësievoordragte en musiek.
Die geleentheid is in samewerking met die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, George-munisipaliteit, South Cape Association of Visual Arts en Neil Dikwe van die Cultural Hut Initiative aangebied.
Eugene Hendriks bring 'n boodskap in Namataal.
Bernard Hannes, Mona Olieslager, Avril Davids en Melvin Roelfse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’