GEORGE NUUS - Geselsies op ‘n privaat Whatsapp-groep tussen verskeie politieke leiers, wat volgens die deelnemers in ‘n ligte trant bedoel was, het plaaslike Khoi-huise warm onder die kraag.
Stemboodskappe van PBI-raadslid Virgill Gericke, Marius Tarentaal (PBI) en ANC-verteenwoordigers Castro Leholo en Mervin Olivier is wyd versprei oor sosiale media.
Die gesprek het gehandel oor of hulle die “Kom van daan”-geselligheid van die Khoi, Griekwa, Boesman en Nama’s op Erfenisdag gaan bywoon. Die stemgrepe van hul gesprek wat versprei is, verwys na die groepering se gebruik van velletjies, kieries en drank.
Die Eden Khoi Aboriginal-raad het hul ontevredenheid in ‘n verklaring gistermiddag uitgereik, waarin hulle hul skok uitpreek oor wat hulle beskou as die bespotting van hul menswees.
Ofskoon die verklaring lui dat die raad ‘n formele klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie teen beide die PBI en die ANC gaan indien, het hul woordvoerder, hofvrou Trudie Jansen, vanoggend gesê hulle is besig met talle vergaderings en wag op die reaksie van die betrokkenes om te besluit wat hulle te doen staan.
Gericke, Tarentaal, Olivier en Leholo voer aan dat die gesprekke “grappenderwys” plaas gevind het en geensins bedoel was om mense te verneder of verkleineer nie. Beide Olivier en Leholo het benadruk dat hulle die gesprek in hul persoonlike hoedanigheid gevoer het, en dat hul politieke affiliasie aan die ANC daarmee niks te make het nie. Leholo het gesê dat hy nie sy eie voorvaders sal verneder nie, en dat ook hy in die Khoi-herkoms deel.
Hierdie seining word ook deur die ander betrokkenes gedeel.
PBI: ‘Ek is ook ‘n nasaat’
Gericke het vanoggend in ‘n verklaring gesê dat die opname “onwettig en sonder toestemming afgetrek en versprei is deur ‘n persoon wat voorgee om ‘n leier van die mense te wees.”
“Die PBI stel dit onomwonde dat ons party die regte, kulture en tradisies van inheemse volke, insluitend die Khoi gemeenskap, onderskryf en respekteer.
Die PBI ondersteun ten volle die Grondwetlike beginsel van kulturele diversiteit en plaas ‘n baie hoë premie op die beskerming van inheemse volke en hul regte.
In die stem opname het die leier, Virgill Gericke, ‘n ligte oomblik oor Khoi gebruike en ons voorsate se tradisies. Die leier van die PBI is self ‘n afstammeling van Khoi herkoms. Die feit dat hy nie ‘n velletjie en kierie dra nie, maak hom nie 'n minderwaardige nasaat nie. Ons leier is eerstens 'n mens en dan 'n nasaat van 'n bepaalde kultuur.” (Lees die volle verklaring onderaan die berig).
Khoi: ‘Ons sal ons eer beskerm’
Jansen het vanoggend gesê die Khoi vra dieselfde respek as wat hulle aan ander gee. “Moenie ons vertrap en verneder nie. Ons sal ons eer beskerm. Dit het niks met politiek te doen nie, dit is ons kultuur waarvan ons praat.” Sy het gesê alle nasies gebruik drank, maar niemand kan die Khoi daarvan beskuldig dat hulle in die publiek ‘n dronkskandaal veroorsaak nie. “Ons gaan nog vergaderings hê, en dit hang af van die betrokkenes se reaksie oor hoe ons die saak vorentoe gaan neem,” het sy gesê.
“Die eerbare ding is om om verskoning te vra, nie om jou gedrag te probeer verdedig of regverdig nie. Hulle is deeglik bewus van hoe ons voel oor die saak.”
Persverklaring deur Stamhoof Brendon Adams:
PBI en ANC George leiers en lede skuld die KHOI Nasie 'n onmidellike onvoorwaardelike verskoning
Media Verklaring oor wydverspreide stemboodskappe van PBI en ANC verteenwoordigers waarin die eer van die Khoi gekrenk word:
As plaaslike Khoi leier het ek met afgryse kennis geneem van die stemboodskappe waarin welbekende leiers van George op Erfenisdag die spot dryf oor Khoi kultuur, tradisies en gewoontes.
Hierdie bespotting - wat die leiers nou probeer afmaak as grappenderwys en hul reg tot vryheid van spraak - was met woede ontvang deur die Khoi en bree gemeenskap van George.
Hoewel dit aangevoer word dat die stemboodskappe in 'n privaat groep gedoen was, beskou ek dit as totaal onaanvaarbaar en verwerp die inhoud daarvan met die minagting wat dit verdien.
Ek beskou dit verder as neerhalend, beledigend, roekeloos en optrede wat verdeeldheid saai en rassehaat aanvlam.
Hiermee doen ek, Stamhoof Brendon Adams, in my kapasiteit as Khoi Stamhoof, 'n beroep op die betrokke leiers om nie verder die gemeenskap om te krap nie en onmiddellik 'n publieke onvoorwaardelike verskoning te maak.
As Khoi Raad sal daar ook besluit word op verdere stappe waar ons ons sal wend tot die SA Mense Regte Kommissie, asook moontlike klagtes by die George Munisipale Raad.
Ek glo ook dat hierdie aangeleentheid tot die hoogste vlakke geeskuleer moet word aangesien ons dit beskou as laag en 'n absolute klap in die gesig van ons Khoi mense.
As leiers het ons 'n verantwoordelikheid om mekaar se verskillende kulture te respekteer. Ons durf nie sulke disrespekvolle grappies maak op enige platform nie.
Ons moet trots wees op ons herkoms en ons kom van daan. Ons moet verenig wees in ons uniekhede.
Ons eis 'n verskoning!
PBI- en ANC-leiers in die Tuinroete moet geskors word oor gruwelike uitlatings
Deur: Tertuis Simmers,DA Oos Streek Sekretaris
Dit is skokkend om te verneem dat n publieke ampsdraer van die Plaaslike Besorgde Inwoners (PBI) en bekende ANC aktiviste van die gemeenskap, onlangs die spot gedryf het met een van die land se oudste nasies, die Khoi, en daarna hardnekkig was om hierdie uitlatings te herken en versoenend op te tree. Dit is veral skokkend, omdat ons as 'n land op 24 September, wat net ‘n paar dae gelede was, Erfenisdag gevier het. Dis nie net die dag waar ons ons kultuur, geskiedenis en heenkome herdenk nie, maar waar ons ook saam, versoenend as een nasie, mekaar se tradisies herken en vier.
Persone wat verkies is as publieke leiers is daar geplaas en het die verantwoordelikheid om mense te verteenwoordig en te help bou aan 'n land wat saam vorentoe kan beweeg. Hierdie onaanvaarbare en onsmaaklike uitlatings laat baie na wense en wys daarop dat hierdie leiers geen respek toon vir die Khoi-gemeenskap nie, en hul selfs minag.
Boonop wys dit ook dat die PBI en ANC nie daartoe verbind is om ons as Suid Afrikaners saam op te bou nie, maar liewer dat daar neergekyk word op sommige groepe.
As die Demokratiese Alliansie (DA) in die Oosstreek sal ons hierdie uitlatings glad nie duld nie en dring ons daarop aan dat beide die PBI en ANC onmiddelik hierdie spesifieke lede skors, terwyl daar ‘n ondersoek gelas word na hulle uitlatings. Persone wat daarop uit is om ons as gemeenskappe van mekaar af weg te dryf behoort nie in leierskapposisies nie en nog minder in politieke leierskap in enige vorm.
Ons moet egter ook nie verbaas wees oor die gedrag wat ons hier sien nie, want in George en die Tuinroete Distrik wys die PBI al sedert 2011 wat hul werklik van ons gemeenskappe dink, en boonop wys die ANC en sy vennote landswyd wie hulle is en wat hulle van ons as Suid Afrikaners dink. Hierdie is net weer n bevestiging daarvan en beide partye het hulsef ontmasker.
Duidelik is beide die PBI en ANC nie tot integrasie verbind nie, en wil liewer kwaad tussen ons gemeenskappe saai.
Die DA bly getrou aan sy visie van 'n Suid-Afrika gebou op vryheid, regverdigheid, gelyke geleenthede en diversiteit.
Klik hier vir die media verklarings uitgereik in hierdie verband.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'